Die verlies van onbereikte ideale - 26 April 2020 (Dag 31)
“O Here, my hart is nie hoog en my oë nie trots nie; ook wandel ek nie in dinge wat vir my te groot en te wonderbaar is nie. Waarlik, ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak; soos ʼn gespeende kind by sy moeder, soos ʼn gespeende kind is my siel in my. Wag op die Here, o Israel, van nou af tot in ewigheid” (Psalm 131:1-3 1933 vertaling).
Vandag verloor baie mense hulle werk en inkomste deur al die afgraderings. Dan word daar groot verliese gelei deur bv. die inperking van sportlui en kunstenaars a.g.v. die Koronavirus. Deur die Covid-19 siekte kan mense ook hulle lewens verloor soos dit regoor die wêreld gebeur.
Hierdie kort en kosbare Psalm is ʼn persoonlike lied wat later deel geword het van die liedere wat destyds in die tempel gesing is. Dit getuig van ʼn volwasse geloof en die nederige vertroue van ʼn persoon wat berusting gevind het in sy gemeenskap met God. Dit verwys moontlik na Dawid wat hoë ideale vir homself in sy lewe gekoester het en daarvan moes afsien. Hy het miskien iets wat vir hom belangrik was verloor. Hy moes ook, deur die dood, afskeid neem van hulle wat vir hom dierbaar was. Dawid het teleurstellings en verlies in sy lewe geken
1. Hy het geweet dat hy later koning sou word. Hy probeer egter nie die koningskap uit die hand van Saul ruk nie. Hy het met ander woorde nie die bevordering wat hom toegekom het met alle mag probeer gryp nie. Jonatan en Dawid het hulle verbond met mekaar vernuwe en daarmee sy koningskap bevestig (1 Sam 23:17).
2. Dawid treur oor Saul en Jonathan se dood tydens die geveg met die Filistyne op Gilboa en skryf daaroor ʼn klaaglied. Hy dink veral aan sy goeie vriend Jonatan (2 Sam 1:17-27).
3. Hy treur ook oor die dood van sy baba by Batseba. Dit was deel van die Here se tugtiging oor hierdie ontugtige verhouding. Nadat die Here die kind weggeneem het, vind Dawid daarin berusting. (2 Sam 12:22-23).
4. Dawid treur ook oor die dood van sy seun Absalom. Hy het verseker hoë ideale gehad vir hierdie seun van hom wat hom moes opvolg as koning. Maar Absolom kom teen sy pa in opstand en word in die geveg gedood. Hy het vir Dawid grootliks teleurgestel (2 Sam 18:33).
5. Dawid wou ook graag vir die Here ʼn tempel bou. Dit was ʼn groot projek waarvoor hy materiaal en fondse ingesamel het, en waarvoor hy reeds voorbereidings begin tref het. Maar, omdat hy bloed aan sy hande gehad het as gevolg van al die oorloë wat hy geveg het, het die Here besluit om nie aan hom die kontrak toe te ken nie, maar na sy dood aan sy seun Salomo (1 Kron 28:2-3).
6. Hy het in groot selfvertroue sy weermag, die weerbare manne laat tel en nie op God vertrou nie. As straf kies hy drie dae van pes in die land omdat die hand van die Here vol genade is (2 Sam 24:14).
Dawid het teleurstellings en verlies geken. Hy moes hom telkens verootmoedig en berus in dit wat hy verloor het. Dit wat hy verloor het, het hom egter nie van God vervreem nie.
Hierdie berusting kom nie vanself nie, maar deur droefheid en wroeging heen. In daardie tyd, soos ook in sekere kulture van vandag, is babas eers op twee of drie jaar gespeen. As die kind dan gespeen word, is hy huilerig en onplesierig vir die eerste paar dae. Dawid se verlies het seker ook gepaard gegaan met droefheid en stryd in sy gemoed. Hy bevestig die oorwinning wat hy behaal het met die eedformule “waarlik” aan die begin van vers twee. “Waarlik, ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak; soos ʼn gespeende kind by sy moeder, soos ʼn gespeende kind is my siel in my” (Ps 131:2 1933 vertaling).
Vir die Psalmdigter kom daar dan berusting in die Here se teenwoordigheid. ʼn Paar mooi beelde word gebruik om te verduidelik hoedat daar in die persoon se gemoed vrede gekom het. Sy gemoed was eers rof en ongelyk soos van ʼn stuk ongeploegde grond. Noudat hy berusting gevind het, is sy gemoed gelyk gemaak, soos ʼn land wat mooi geploeg is. Hy is nou soos ʼn gespeende kind by sy moeder. Die kind wat eers ontevrede was en gehuil het, omdat hy nie meer van sy moeder se melk kon kry nie, het nou berusting gevind en is tevrede om net by haar te wees. Die innige liefdesband tussen moeder en kind is nie verbreek nie.
Dawid het ook vrede gevind omdat hy geweet het dat ten spyte van sy verlies, hy nie sy God verloor het nie. Hy het nog steeds die innige verhouding tussen hom en sy Hemelse Vader ervaar. Trouens, wie kan ons van die liefde van God in Christus skei (Rom 8:35-39)?
Die Here Jesus, die Seun van Dawid, het self in Getsemane in benoudheid en angs verkeer. Sy sweet het soos bloed geword toe hy gebid het dat sy dood aan die kruis by Hom sou verbygaan. Hy berus Hom egter in die wil van die Vader (Luk 22:41-44).
Hy verloor sy lewe, sodat ons, diegene wat in Hom glo nie die ewige lewe sal verloor nie
Hierdie lied in Psalm 131 is opgeneem in die liederebundel wat destyds in die tempel gesing is. Die geloofsoortuiging en geloofsvertroue wat in die lied voorkom, moes nie net by een persoon bly nie, maar moes deel word van die hele geloofsgemeenskap. Al die Here se kinders kan nou in alle omstandighede, in diepe afhanklikheid en in gemeenskap met hulle hemelse Vader lewe.
Om vir Jesus te volg beteken dikwels die aflegging van sekere dinge. Dit kan beteken die aflegging van sondige gebruike en begeertes, die sterwe aan die sondige vlees. Dit kan ook beteken om, soos Paulus, sekere dinge wat verband hou met ons status en aansien in die samelewing as waardeloos te beskou, juis om vir Christus beter te leer ken (Fil 3:7-8).
Om vir Jesus te volg beteken die opneem van die kruis. Ons is in elk geval hier op aarde maar vreemdelinge, op pad na ʼn beter tuiste. Dit is moeilik en swaar om afstand te doen van aardse goed, veral as dit nie vrywillig gegee word nie, maar met geweld van ons afgevat word, soos so dikwels vandag gebeur (Heb 10:34).
Al is dit soms swaar om nie die ideale waarvoor ons gewerk en gehoop het te bereik nie, of om iemand of iets wat kosbaar is te verloor, wil die Here ons troos en tot bedaring bring. Ons sal nog altyd by Hom wees want niks kan ons van Sy liefde skei nie. Hy vra dat ons, ons kruis sal opneem en Hom volg. Ons kan elke keer met Hom in gesprek tree en in die gebed ons node en behoeftes vir Hom noem. Sy vrede word dan ons deel.
“En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus” (Fil 4:7).
Wag op die Here en vertrou op Hom.
Dr. Ben Jackson
Jeffreysbaai