Leef en werk in die geloof - 26 Julie 2020 (Dag 122)
Lees: Genesis 25:19-34
Teks: Genesis 25:21-23
God skaam Hom nie om die God van Abraham, Isak en Jakob genoem te word nie! So sê Heb. 11 en so sien ons in die geskiedenis. Abraham, Isak en Jakob is die mense met wie Hy na die sondvloed ʼn nuwe begin met die mensdom gemaak het. Die heilige en ewige God wat Hom nie skaam om Hom aan dié mense te verbind en niks teruggehou het om in hulle en deur hulle sy heerlike werk bekend te maak nie. Só kan almal weet wie Hy is en sien hoe Hy werk.
Dit gaan oor die belofte aan Abraham dat al die volke van die aarde in hom geseën sal word, in sý nageslag. Die eerste baken op hierdie pad is die geboorte van Isak, en ons weet hoe buitengewoon daardie geboorte was en hoe dit alles verloop het. Heb. 11 sê: “Omdat Abraham geglo het, het hy, hoewel Sara onvrugbaar was en hy al te oud, krag ontvang om ʼn kind te verwek, omdat hy God wat dit beloof het, getrou geag het.” Die punt is dat die lyn van die belofte spesifiek deur Isak loop, dié kind wat in die geloof verwek is. God doen wat Hy gesê het en daar is net een manier hoe ʼn mens daarby kan inpas, en dit is om God op sy woord te neem. So werk God en dit is die boodskap uit die geboorte van Isak.
Die 2de baken is Abraham en Isak, en die pad wat God met hulle geloop het, spesifiek die uiterste toets dat Abraham vir Isak moes offer. Ons weet wat Abraham gedoen het en hoe hy dit gedoen het. Heb. 11 sê dat Abraham daarvan oortuig was dat God by magte was om vir Isak uit die dood op te wek, oortuig dat God se belofte nie sal doodloop teen die dood nie! Vir Abraham was dit ʼn belangrike mylpaal in die geloof, en vir Isak ʼn lewensnoodsaaklike bousteen in die geloof.
Die volgende belangrike baken is die kinders wat toe uit daardie huwelik gebore is. Dié kinders is gebore nadat Isak en Rebekka al 20 jaar getroud was, wat in hulle geval werklik ʼn krisis was: hoe gaan die pad van die beloofde nageslag verder as Isak en Rebekka nie kan kinders kry nie? Isak het dit in die geloof hanteer en dit met die Here opgeneem deur te bid oor die saak. Daarop is God se antwoord toe die tweeling waarmee Rebekka swanger geword het en waarmee sy self nie raad geweet het nie. Vers 22: “Die kinders het in haar teen mekaar gestamp, en toe sê sy: `Waarom gebeur so iets met my?’” Daarop het sý toe die Here geraadpleeg en ʼn aangrypende antwoord van die Here ontvang. Dit moes vir haar wat die gewoel van die tweeling in haar beleef het seker net so ʼn boublok in die geloof gewees het soos vir Isak toe hy op die altaar vasgemaak gelê het om geoffer te word in opdrag van God. Só is beide Isak en Rebekka in alle erns gestel voor die wonderlike weë van die Here.
So kry ons in hierdie geskiedenis belangrike lig waarmee ons die uitdagings moet aanpak wat nou as gevolg van die Korona virus op ons pad gekom het. Dit gaan daaroor dat ons in die geloof sal lewe, geloof in die belofte van God wat in Jesus Christus ʼn volle werklikheid is. Geloof in Jesus Christus en alles wat Hy gedoen het en steeds doen; burgers van die hemel en vreemdelinge en bywoners hier op aarde. Ons leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom.
Dán luister ons ook met nuwe opgewondenheid en sielevreugde wanneer Jesus in die Bergpredikasie sê: “Julle moet julle dus nie bekommer en vra: `Wat sal ons eet of wat sal ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”
In die geloof doen. Kyk net weer na die geskiedenis van Jakob en Esau. Dan sien ons hoe diep alles uiteindelik gaan.
Ds. Dirk Wijnbeek
Swartruggens