Ek staan langs jou - 26 Junie 2020 (Dag 92)
• “Jy behoort aan My… Jy is belangrik vir My. Ek is baie lief vir jou. Jy moenie bang wees nie, want Ek staan langs jou” (Jes.43:1,4,5. Die Boodskap).
As daar een ding is wat ons in hierdie dae opnuut ontdek het, dan is dit die werklikheid van God se teenwoordigheid, sy liefde en omgee. Die hele Bybel vertel dit vir ons.
God is so naby aan ons as ons asem, want God het die lewensasem in ons ingeblaas (Gen.2:7).
Toe die mens gesondig het en vir God weggekruip het, het God na Hom gesoek en gevra: “Waar is jy?” (Gen.3:9).
Toe God vir Abraham geroep het, het Hy vir hom gesê: “Lewe naby My” (Gen.17:1).
Toe Israel slawediens in Egipte verrig het, het die HERE vir Moses geroep en vir hom gesê: “Ek sal by jou wees” (Eks.3:12).
Toe Israel uit Egipte trek, het God se teenwoordigheid hulle omhul soos ’n wolkkolom bedags en ’n vuurkolom snags (Eks.13:21-22; 14:19).
Toe Israel by Sinaïberg kom, het die HERE vir hulle gesê: “Ek het julle soos op arendsvlerke veilig gedra en julle na My toe gebring” (Eks.19:4).
Toe die HERE aan Moses sy wet gee, toe het Hy gesê: “Ek is die HERE, jou God… Ek sal na julle toe kom en julle seën” (Eks.20:1,24). “My engel sal voor jou uitgaan…” (Eks.23:23. vgl,Ps.34:8).
Dawid sê is Ps.23: “Die HERE is my herder… Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig” (:1,4).
Die Koragiete sing in Ps.46:2- “God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood. Daarom is ons nie bang nie” .
In Ps.56 sê Dawid: “Die dag as ek bang word, vertrou ek net op U… U het my van die dood gered… met God by my kon ek my pad aanhou loop en die lewenslig bly sien” (:4,14).
Voor Jesus se geboorte word na Hom verwys as Immanuel, wat beteken: “God by ons” (Matt.1:23).
So kan ons die hele Bybel deurgaan en elke keer verwonderd staan oor God se teenwoordigheid by ons. Daarom spreek Jesaja ons treffend aan as die HERE deur hom sê:
“Jy behoort aan My… Jy is belangrik vir My. Ek is baie lief vir jou. Jy moenie bang wees nie, want Ek staan langs jou” (Jes.43:1,4,5. Die Boodskap).
Maak vandag jou geestelike oë wyd oop en jy sal sien dat die HERE langs jou staan. Word stil voor Hom, aanbid Hom, gryp Hom aan in die geloof. Maak ook jou ore en hart vir Hom oop, en hoor Hom as Hy vir jou sê:
Ek het jou gekoop
toe jy van My af weg wou loop.
Ek het jou geroep,
want Ek het jou naam geken
Toe jy omdraai,
het jy in my oë gekyk
en jy het my hart
vol liefde raakgesien.
Jy het nie gewis hoe belangrik jy is
totdat jy My langs jou sien staan.
Toe Ek my hand op jou skouer sit
het ’n nuwe lewe vir jou oopgegaan.
Sien my hart wat klop vir jou
hoor my stem wat roep na jou,
Ek sal altyd by jou staan
al sal almal van jou weg wil gaan.
My kind sal jy vir altyd bly
Jou hand sal nooit uit Myne gly.
Ek sal altyd langs jou staan
al sal diep waters oor jou gaan.
In siekte, dood, pyn en smart
in vuur wat gloei en vlam wat brand
Ek ken jou hart, jy roep My aan,
Ek sal altyd langs jou staan.
Ds. Attie Beetge
Stellenbosch.