Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Hoe dink en beplan ons vir die toekoms - 26 Mei 2020  (Dag 61) 

Lees: Matteus 24:15-22 Korona 7

Die koronavirus maak nie net mense siek en in baie gevalle dood nie; dit bring ook die hele doen en late van mense onder die vergrootglas en hoe broos en verganklik alles is. Dit het ons nou gesien met die instel van die grendeltyd en hoe dié tyd verloop het en nou al die probleme rondom die verslapping en opheffing van die grendeltyd. So is dit hier en so gaan dit in die res van die wêreld.

Omtrent ʼn eeu gelede is die wêreld ook getref deur ʼn dodelike griep. Sedertdien het mense se kennis van sake baie toegeneem en die tegnologie wat vandag beskikbaar is, is verstommend en tog het dit nie nou die hantering van die nuwe virus makliker gemaak nie en staan mense nog steeds in ʼn groot mate magteloos en bring dit ʼn ongekende onrustigheid en onsekerheid in die lewe. Ons moet ook nie vergeet of onderskat wat die Bybel in Op. 6 sê van die ruiters wat uitgestuur is nie. Hulle is losgelaat toe die Lam begin het om die seëls van die boek oop te maak wat Hy geneem het uit die hand van Hom wat op die troon in die hemel sit. Of jy dit nou van dié kant bekyk of uit enige ander hoek bly die feit dat die lewe vandag deurmekaar is en is dit of die vaste grond onder ʼn mens se voete weggeraak het.

Nou kan ons ook iets verstaan van die skok van die dissipels toe Jesus vir hulle in verband met die tempel in Jerusalem gesê het dat nie een klip op die ander sal bly nie en alles afgebreek sal word. Dit het dadelik ʼn paar soortgelyke gebeure in die geskiedenis in herinnering geroep! Die een was toe Nebukadnesar 6 eeue tevore Jerusalem beleër het en die tempel wat Salomo gebou het, afgebreek en geplunder het. Die 2de keer was minder as 2 eeue gelede toe Antiochus Epiphanes die tempel wat met groot moeite na die terugkeer uit die ballingskap gebou is, verskriklik ontheilig en afgebreek het. Tog net nie weer só iets nie! Buitendien was so iets op daardie stadium ook nie in sig nie al het die Jode dikwels vasgesit met die Romeinse administrasie!  

Waar Jesus se woorde oor die tempel toe vir die dissipels ʼn groot skok was, was dit weer vir Jesus die geleentheid om hulle verder te onderrig oor die toekoms en hulle gedagtes te vorm. Hierdie aangrypende onderrig is egter kort hierna heeltemal oorskadu deur ánder dinge wat gebeur het en wat die dissipels se hele lewe ingrypend en permanent op ʼn nuwe baan geplaas het! Dit is die belangrike gebeure van Jesus se sterwe en opstanding en 40 dae later sy hemelvaart en daarna Pinkster. In dié 40 dae het Jesus by verskeie geleenthede met sy dissipels gepraat oor die koninkryk van God. Ons weet nie wat Hy alles in dié tyd gesê het nie, maar, toe hulle by ʼn keer weer so bymekaar was en hulle vir Hom gevra het of dit nou die tyd is dat Hy die koninkryk vir Israel gaan oprig, het Hý hulle gewys op die krag wat hulle sal ontvang wanneer die Heilige Gees oor hulle kom en dat hulle sy getuies moet wees tot in die uithoeke van die wêreld. Dit is die magtige pad wat voorlê! By sy hemelvaart het twee besondere boodskappers vir die dissipels gesê dat Jesus weer so sigbaar sal terugkom soos wat hulle Hom sien weggaan het - dié wederkoms waarvan Jesus in sy profetiese rede gepraat het! Wat dan van al dié dinge waarvan Hy by daardie geleentheid met soveel erns gepraat het?

Ons is vandag in die posisie om terug te kyk en te sien wat die afgelope 20 eeue geword het van dié dinge waarvan Jesus destyds gepraat het. Dán skrik ʼn mens tog om te sien dat in die jaar 70, dus ʼn skrale 40 jaar na die profetiese rede, presies dit gebeur het waarvan Jesus gepraat en in so baie besonderhede uitgespel het! Wie sou ooit kon dink dat dit so gou sou wees en dus amper al voor die deur was toe Jesus met hulle gepraat het? Verder is dit ook duidelik dat dit wat in 70 nC in Jerusalem gebeur het nog nie alles was waarvan Jesus destyds gepraat het nie. Die magtige wederkoms, soos wat Hy dit uitgespel het en waarvan die dissipels by die hemelvaart opnuut verseker is, dit kom nog. Dieselfde geld van die groot verdrukking waarvan Jesus gepraat het en wat aan sy wederkoms voorafgaan: ook dit kom nog en lê nog voor. Daarom moet ons nou in 2020 weer met aandag kyk na wat Jesus in sy profetiese rede gesê het en gelowig werk met dit wat Hy vir ons gegee het.

Ons kyk spesifiek na die opdrag om te vlug en alles wat Hy verder in dié verband gesê het. Vers 15: “Wanneer julle ooreenkomstig die woord van die profeet Daniël die ding wat ʼn gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig, in die heilige plek sien staan.” Hierdie spesifieke aanwysing was vir die dissipels duidelik, want dit waarna Hy verwys het, die verskriklike dinge van Antiochus Epiphanes, het minder as 2 eeue tevore gebeur. As jy dit nou weer sien, daardie uiterste vyandigheid teen God, ʼn vyandigheid wat niks ontsien nie, moet jy vlug! Omdat Hy in die eerste plek gepraat het van die aanslag van die Romeine op Jerusalem in 67-70, het Hy spesifiek gepraat van diegene wat in die omgewing van Jerusalem was wat moes vlug na die berge wat al deur die jare vir baie vlugtelinge skuiling gebied het. Die punt waaroor dit gaan, is dat ʼn mens dan moet vlug. Ook die dringendheid waarmee daar dan gevlug moet word. Dit is ʼn uiterste dringendheid! Dán kan ʼn mens nie nog wil talm soos wat Lot destyds getalm het toe hy aangesê is om te vlug nie. Hý het getalm omdat Sodom so ʼn houvas op sy hart gehad het.

“En as dit nie was dat God daardie tyd ingekort het nie, sou geen mens dit oorleef nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal God daardie tyd inkort.” Só is God. Hy hou die hele lewe tot in sy uiterste oomblikke in sy hand en oefen daaroor seggenskap uit! Dink ook aan wat Jesus in Joh. 10 gesê het: “My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My. Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.”  

Nou weet ons nog steeds nie wat alles vir ons voorlê nie, soos wat die dissipels dit ook nie geweet het nadat Jesus klaar gepraat het nie. Ons weet nie eens hoe die uitfasering van die grendeltyd gaan uitwerk nie. Wat ons wel weet, is dat ons hele lewe in die hand van God is en dat ons oor die onbekende toekoms by Hom ons toevlug kan neem, nie net later nie, as dinge regtig moeilik gaan, maar nou al, nog voordat alles gebeur!  

Praat met God oor die praktiese dinge wat die lewe vir jou so moeilik maak. En intussen aanhou om te doen wat ons moet doen, soos wat Jesus dit verder in hierdie profetiese rede uitgespel het! “Wie is eintlik die getroue en verstandige slaaf vir wie sy eienaar oor sy ander slawe aangestel het om hulle op tyd kos te gee? Dit is dié slaaf vir wie sy eienaar by sy tuiskoms so aan die werk sal kry. Gelukkig is hy! Dit verseker Ek julle: Hy sal hom aanstel oor alles wat hy besit.”  

Só leef ons in hoop en dit is die Heilige Gees wat dié hoop in ons lewend hou! Hy is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, Ef. 1:14.

Ds. Dirk Wijnbeek
Swartruggens
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: