Die genadekrag van God - 27 Julie 2020 (Dag 123)
Lees: 2 Kor 12:1-10. Let veral op v 10: "Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings....want as ek swak is, is ek sterk."
Dit klink werklik agterstevoor om. 'n Teenstrydigheid! Vat nou maar die situasie waarin ons RSA bevolking tans is. Elke dag is die slegte nuus net baie meer as die goeie. Uiteindelik moet iets breek onder die druk. Elkeen behoort te weet waarvan ek praat: finansies wat tekortskiet; die ongemak oor jou verlore lewensritme van werk en ontspanning, vriendskapsbande wat net met moeite onderhou kan word, kinders wat by die huis neul omdat hulle nie lekker dinge kan doen nie, en dan nog "skool" by die huis moet verduur, bejaardes wat ingehok word sonder om hulle geliefdes te sien, en daarby die ongemaklikheid om gedurig wakker te wees om nie oor die spore van die virus te loop nie.
Maar wat van smeek dat die Here moet ingryp om die lewe te vergemaklik, om lewensvreugde te kan geniet? Jaaa... maar gebed is ook nie om net die noodknoppie te druk nie, dit is om met God om te gaan as jou Vader. Jy ontmoet Hom in al jou lewensomstandighede, ook jou trane, knellende ervarings, situasies van pyn wat ongeneeslik voorkom, jou vrese...
Terug by Paulus se woorde oor swakheid en krag. Hierdie tema oorheers 2 Kor 11,12 en 13. In 11 kleur die apostel sy swakhede in met 'n oorsig oor van sy ervarings as verspreider van die Blye Boodskap: bitter harde werk, lyfstraf deur die Jode, oral lewensbedreigende gevare op reis of tussen mense, in die koue nagte sonder skuiling en kos, gevare van rowers, gevare op seereise, die voortdurende bekommernisse oor die gemeentes, gevangenskap ens. Dit alles ter wille van Christus! Hier is geen rede om te roem, te spog nie. As hy moet spog, sal dit wees dat hy die vernederings verduur om Christus te dien.
Hoofst. 12 vertel van die "doring in sy vlees" wat hy ook "n boodskapper van die Satan" noem wat hom met "vuiste slaan". Natuurlik strem dit hom in sy werk, en hy vra die Here om hom hiervan te verlos. Dit maak hom swak. Dis tog 'n redelike versoek. Maar die Here stel sy eie doelwit: As jy swak is, kom my krag op die voorgrond! As jy dit vashou, sal jy selfs roem in jou swakheid. Sy genade, is immers sy skeppende genadekrag. Dis genoeg. Dis soos 'n veilige huis, 'n "beskutting"(v,9) .
Ja, 'n mens kan met jou "krag", jou eie bekwaamhede in God se pad staan. Dit gebeur maklik dat óns, Christene, onder die invloed van die moderne gees van die tyd, alles kan regmaak wat na ons insig in die samelewing en ook die Christelike kerk gebrekkig is. Was daar al so 'n tyd soos nou met soveel planne en aktiwiteite om die kerk interessanter en lekkerder te maak, om die kerk meer op die voorgrond te kry en indrukwekkender te laat vertoon. Eredienste en ander samekomste moet blom al is dit deur die gebruik van truuks. Dit maak indruk op mense. As hierdie "wysheid" sy loop kry verskuif mense se fokus geleidelik weg van Hom wat "gekruisig (is) in die swakheid van 'n mens. En in Hom is ons ook swak, maar saam met Hom sal ons uit die krag van God lewe".(2 Kor 13:4).
Christene moet nie in hierdie tyd wat die virus mense seer maak, nie 'n behoefte voel om skouspelagtige dinge op die mark te sit nie, soos bv wonderlike genesings of openlike uitdagings teenoor die vyandige Covid-19 nie. Wees maar net as 'n kwesbare, swak mens in geloof, hoop en liefde. Leef maar gerus as swak mens, dan kom die krag van God duidelik in fokus. Swaarkry is nie afbrekend nie, maar kan die deur wees na die genadekrag van God.
Ds. Alwyn du Plessis (Emeritus)
Stellenbosch