Die gevolge van die salwing van die Gees - 27 Mei 2020 (Dag 62)
In 1 Johannes 2:20 en 27 hoor ons die merkwaardige woorde: “julle het die salwing van die Heilige en weet alles” en “julle het nie nodig dat iemand julle leer nie”. Terloops, hoewel daar ook ander manuskripte van vers 20 is, lyk hierdie vertaling in die lig van die verband met vers 27 en ook met wat Johannes in sy Evangelie geskryf het, moontlik die mees aanvaarbare.
Dit verwys natuurlik na die uitstorting van die Heilige Gees met Pinkster op die kerk van Jesus Christus as sy liggaam, nadat Hy ons met sy bloedstorting aan die kruis geheilig en gereinig het, sodat die Heilige (!) in ons kan kom woon. Soos Christus met sy doop, so is ons met Pinkster gesalf deur die Heilige Gees.
In sy Evangelie skryf Johannes nog oor die belofte van die koms van die Heilige Gees: dit sal van die Vader en die Seun af kom, en die Gees sal ons aan Christus vasbind; Die Gees sal ons alles leer en ons aan alles herinner wat Christus vir ons gesê het (Joh 14:26;15:26). En nou na die salwing, sê Johannes in sy eerste brief (preek), weet ons dan alles wat ons behoort te weet.
Dit moet net nie verkeerd verstaan word nie. Dit het niks met selfgenoegsaamheid te doen nie, asof ons na die koms van die Gees alles vanself weet nie. Nee.
Eerstens beteken dit dat die openbaring van God in en deur Jesus Christus nie sonder die werk van die Gees gebeur het nie. Die werk van die Woord en van die Gees kan nie van mekaar geskei word nie. Die Heilige Gees openbaar nooit aan ons iets anders as wat God ons in en deur Jesus Christus wil leer en aan Hom geopenbaar het nie.
Tweedens dui die woorde: “julle weet alles” en: “niemand anders hoef julle te leer nie” nie op ons goeie kennis en insigte nie, maar op die volkomenheid en genoegsaamheid van die Heilige Skrif as die geopenbaarde Woord van God. Dit is die volledige skriftelike openbaring van God wat onder leiding van die Gees ontstaan het. En, daarom weet ons alles; alles wat nodig is om salig te kan word, en om toegerus te wees vir waarvoor die Here ons roep.
Derdens praat die Here hier deur Johannes nie net met my as individu nie; hy praat van “julle” (meervoud). Ons as kerk het kollektief, as die een liggaam van Christus die Woord ontvang, en so is die Gees ook oor ons almal uitgegiet. Daarom is ons as gelowiges ook aan mekaar verbind en van mekaar afhanklik om onder die verligtende werk van die Gees werklik die Bybel reg te verstaan.
Ons is dankbaar om deel te kan wees van daardie kerk van Christus in die wêreld wat die belydenis van die genoegsaamheid en gesag van die Heilige Skrif aanvaar en bely (vgl byvoorbeeld die Nederlandse geloofsbelydenis, artikels 2-7).
Te midde van die moeilike en beproewende tye wat ons saam met die mensdom en ons medegelowiges wêreldwyd ervaar, is hierdie Woord en die verligtende en vertroostende werk van die Gees onontbeerlik en eintlik ons enigste werklike troos. Ons weet daarom dat God ‘n God van liefde en genade is.
Prof. Dries du Plooy
Jeffreysbaai.