Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Moenie alles vir soetkoek opeet nie - 27 Junie 2020  (Dag 93) 

1 Tessalonisense 5:21: Beproef alle dinge; behou die goeie (1953-Vertaling)

Ek onthou toe ek nog op Universiteit was, het sommige studente hierdie teks gebruik om immoraliteit soos drankmisbruik en seksuele losbandigheid goed te keur. Die argument sou wees dat die Bybel jou hier opdrag gee om álle dinge op die proef te stel, sodra jy net opeindig met die goeie. 

In die konteks van die gedeelte wil Paulus egter die volgende boodskap oordra: Daar sal baie predikers by julle ‘n draai kom maak en beweer dat hulle die Evangelie verkondig. Party van hulle bring ‘n valse Evangelie. Luister deeglik na almal. Dié wat die waarheid verkondig mag julle weer op julle preekstoele laat staan, maar vermy die ander soos die pes.

Teen hierdie agtergrond verstom ek my in hierdie tyd oor die valse Evangelie wat daagliks die rondte doen in die vorm van WhattsApp-boodskappe, e-posse, en so meer. Dit raak ‘n wye verskeidenheid van sake, wat insluit dat ons deur vas en gebede God in staat moet stel om ons van die bose, wat stelling ingeneem het oor ons stad, te verlos. Wel, as ons vir God mag moet gee om enigiets te doen, is Hy per definisie nie meer God nie. Dit demonstreer eintlik hoe ons in ons eie oë God geword het.

Die voorbeelde is te veel om op te noem, maar sluit ook in dat ons weer op die Sabbat (Saterdag) moet vergader en nie op die opstandingsdag van die Here (Sondag) nie. Dat ramshorings die oplossing vir hierdie pandemie is en dat hierdie ‘n vloek van God op ons is. 

Albert Einstein het by geleentheid gesê: “Adversity introduces a man to himself”. Teen daardie agtergrond wil ek sê hierdie pandemie het nie hierdie dwalings veroorsaak nie. Dit het bloot aan ons kom wys hoe baie dwalings daar reeds in die kerk (in ‘n breëre sin, wêreldwyd) is.

In Handelinge 17:10,11 lees ons dat die mense van Berea na Paulus en Silas geluister het. Hulle het egter gesê hulle sal hulle boodskap eers meet teen die Woord van die Here. Ek wil ook in liefde vir julle vra om asseblief nie alles wat julle in hierdie (of enige) tyd ontvang, wat ‘n Christelike sousie oor het, vir soetkoek op te eet nie. Toets dit aan die Here se Woord.

Gebed: Here, U het ons gewaarsku dat daar wolwe in skaapsklere sal kom om U kudde skade aan te doen. Help ons om in hierdie tyd van weerloosheid daarvoor op ons hoede te wees. Amen. 

Dr. Enrico Casaleggio 
Fichardtpark, Bloemfontein. 
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: