Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
"Is die Here by ons of nie?" - 28 April 2020  (Dag 33) 

Dit is die vraag wat die Israeliete gevra het terwyl die Here sy volk uit Egipte na die beloofde land gelei het. Wat ‘n vraag om te vra! As daar ‘n volk op aarde was wat dadelik moes geantwoord het, “Ja, die Here is by ons,” dan was dit mos die volk van Israel. Die Here het die Egiptenare met 10 plae getref. Die Israeliete is dit egter gespaar. Die Here het sy volk veilig deur die Rooisee laat trek terwyl al die Egiptenare omgekom het. Hy het hulle elke dag brood en vleis (manna en kwartels) gegee om te eet en water om te drink. Wonder op wonder het plaasgevind, en tog het die Israeliete gevra: “Is die Here by ons of nie?”

As ons na ons eie omstandighede kyk, kan ons ook vra: “Is die Here by ons of nie?” Soveel mense het nie werk nie, het nie kos om te eet nie. Ons is bekommerd oor die toekoms. Ons land het groot probleme en die oplossings ontbreek. Tog, as ons mooi na alles kyk, dan dra en onderneem die Here nog vir ons op sovele terreine. Miskien nie presies soos ons dit wil hê of verwag nie, maar daar is tog nog soveel seëninge op tydelike en geestelike gebied. Ons moet die Here se beloftes in sy Woord glo. In Matt.28:20 byvoorbeeld, sê Jesus kort voor sy hemelvaart vir ons: “En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” Hy beloof om deur sy Gees BY en MET ons te wees!

Gedurende baie moeilike omstandighede tydens die Amerikaanse Burgeroorlog, het Amerikaners dieselfde vraag aan hulle President gevra: “Is die Here by ons of nie?” Die President se wyse antwoord was: “Dit is nie die regte vraag om te vra nie. Ons moet vra: “Is óns by die Here of nie.”
Ek glo dat dít - in hierdie tyd van inperking - die regte vraag is om te vra: “Waar bevind ons ons in ons verhouding met die Here? Waar bevind ék my in my verhouding met die Here?” Die wonderlike beloftes wat die Here gee, gee Hy aan hulle wat by Hom is. Diegene wat Hom nie ken nie, hulle wat nie aan Hom behoort nie, hulle wat nie by Hom is nie, kan nie sonder meer sy beloftes vir hulle toe-eien nie.

Om net drie voorbeelde te noem:
• Ps 91:14 -15 “Omdat hy My LIEFHET, sal Ek hom red, sê die Here, omdat hy My KEN, sal Ek hom beskerm. Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy gebed verhoor; in sy nood sal Ek by Hom wees, …….”
• Joh. 10: 27 “My skape LUISTER na my stem; Ek ken hulle, en hulle VOLG my. Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.”
• In Ps 23 bely Dawid – “Die Here is MY HERDER…” Dawid sê hier dat hy BY die Here is. Daarom kan hy in vers 4 sê: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In U hande is ek veilig.”

In hierdie dae het ons die geleentheid om ons verhouding met die Here te ondersoek. Ons moet opnuut KIES om Hom Here, Koning, Heerser in ons lewens te laat wees, of as ons afgedwaal het, moet ons kies om terug te keer en ons skuld te bely. Ons moet bereid wees om te LUISTER as Hy met ons praat en te VOLG waar Hy ons lei. Ons moet erns maak om uit genade die VRUG VAN DIE GEES, naamlik liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing duidelik in ons lewens te vertoon.

Ons moet seker maak ONS is BY Hom, want dan is HY mos ook by ons.

Ds. Dawie Kriel 
Bethlehem 
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: