Min, maar genoeg - 28 Julie 2020 (Dag 124)
Lees: Markus 6:35 -44
In die gedeelte wat ons gelees het, verneem ons hoe deur Jesus se krag, ‘n klein bietjie, baie geword het, genoeg.
Soos baie kere, is daar ‘n groot saamtrek rondom Jesus. Hy leer hulle die hele dag. Teen die aand was hulle honger. Die dissipels kom na Jesus en sê Hy moet die mense huistoe stuur om kos te gaan koop. Jesus sê egter: “Gee julle vir hulle iets om te eet” Hoe is dit moontlik, het die dissipels seker gewonder? Ons het net vyf brode en twee visse. Hulle, die dissipels het vergeet van die mag van Jesus. Deur Jesus se mag vind ‘n wonder plaas. Vyf brode en twee visse, ‘n bietjie, word genoeg vir duisende mense.
In ons wêreld, veral nou in die Korona tyd, is daar ook baie wat honger het. Baie met geestelike en/of liggaamlike nood. Baie sonder kos, wat siek is, eensaam, oud, bedroef en dakloos is, sonder ouers, kinders, familie. Moedeloos, kleingelowig, twyfel aan God se bestaan, wat selfs in wanhoop uitroep: God is dood.
Hierdie mense is rondom ons, elke dag op ons lewenspad. Wat doen ons? Baie verskonings. Soos die dissipels sê het ons ook baie kere wat ons het en wat ons kan doen is net ‘n bietjie, hopeloos te min. Of soos Moses van ouds: ek kan nie praat nie, soos Jeremia: ek is te jonk. Of ek is te oud, ek is te besig. Ek is ‘n te groot sondaar. Daar is mos ‘n predikant of ‘n ouderling, waarom ek?
Die Woord van die Here leer ons egter anders. Leer ons dat die Here elkeen van ons wat in Jesus glo, wil gebruik in sy diens. Nie een is te jonk of te oud of te gering of te groot sondaar om in sy diens te staan nie. Met die krag van Jesus word dit moontlik dat jou bietjie op ‘n bepaalde stadium vir iemand anders baie, genoeg, kan wees.
‘n Pa en sy agtjarige seuntjie het elke Sondag na afloop van die erediens in hulle dorp pamfletjies uitgedeel met die woorde: “Jesus is lief vir jou”. Een Sondag is dit baie koud en die pa wil nie gaan nie. Die seuntjie gaan alleen. Die volgende Sondag getuig ‘n vrou in die Kerk: “ Die lewe het vir my een groot stuk duisternis geword. Verlede Sondag het ek alles reg gehad om selfmoord te pleeg. Reeds op die stoel om oor te gaan tot die daad toe sien ek ‘n papiertjie word onderdeur die deur gestoot. Ek klim af en lees. “Jesus is lief vir jou” . So aangegryp dat ek afgesien het van dit wat ek wou doen.” Wat die seuntjie gedoen het, was deur die krag van God, baie, dit was genoeg om die vrou te red.
In 2 Kon. 5 lees ons dat op aanbeveling van ‘n “jong” Israelitiese dogtertjie het Naäman, ‘n gesiene heidense vors, wat melaats was, vir Elisa die profeet besoek en genesing ontvang. Hierna lees ons dat die heidense vors bely het: “Ek weet nou, daar is geen God op die hele aarde nie behalwe in Israel”. Dit wat die jong dogtertjie gedoen het, haar aanbeveling, was baie, was genoeg vir die genesing van die heidense vors se liggaam en sy gees.
So kan jou klein bemoediging vir ‘n moedelose weer hoop gee; jou trooswoordjie kan ‘n bedroefde se hartseer verlig, jou gebed kan ‘n dwalende, soekende, weer by die Here uitbring; jou paar sente vir ‘n hongerige ‘n brood koop.
Prof Bieks Beukes
Capitalpark, Pretoria