Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Miskien is daar hoop - 28 Junie 2020  (Dag 94) 

Lees: Klaagliedere 3:1-33.

Ons is meestal van opinie dat twyfel en ongeloof sinonieme is. Daarom bring twyfel ons in vertwyfeling oor ons eie geloof. Maar is dit so? Ons beskou twyfel as ‘n onvergeeflike sonde. Is dit waar? Die Duits-Amerikaanse teoloog Paul Tillich het gesê twyfel is deel van geloof; daar is meer geloof in twyfel as in baie Geloofsbelydenisse. Daarmee het hy bedoel dat ‘n Geloofsbelydenis opgesê kan word sonder enige bewustelike besef van wat ‘n mens sê , terwyl iemand wat twyfel daadwerklik worstel met geloof. Ons dink maar aan Job as ‘n voorbeeld. Ons voel so skuldig oor ons twyfel- veral ook in hierdie grendeltyd. Is daar grond vir ons twyfel ? Klaagliedere 3 sê: Geloof is om “miskien” te kan sê.

Israel was ‘n voorspoedige volk en het die tempel gereeld besoek. In die tempel het hulle gehoor dat God aan hulle kant is, en dat Hy hulle nooit in die steek sal laat nie. Sien maar die Sionsliedere en die Koningspsalms. En hulle was oortuig dat dit waar is: daar was hulle land, hulle tempel as wat die teologie gesê en hulle koning as bewyse vir hulle geloof – simbole van hulle identiteit en trots.

Toe gebeur dit…Nebukadnesar se leërs onder leiding van Marduk oorwin die onoorwinlike stad Jerusalem in 586 Vc. Die tempel van Salomo word afgebreek en die koning in boeie weggevoer. Daar was geen enkele bewys meer oor dat God goed is nie. Dis waaroor die gedig, die klaaglied in Klaagliedere 3 gaan: God het verander-daaroor gaan die eerste 16 verse. God het woord gebreek. God het teen Sy volk gedraai. Luister na enkele voorbeelde uit die eerste verse: (die Here het my met Sy toorn geslaan…my in die donker ingejaag, laat loop op ‘n pad sonder lig..vir my stoot Hy gedurig weg..my liggaam laat wegteer, my bene gebreek..my toegebou met ‘n muur van gif en ontbering rondom my…vir my swaar bronskettings aangesit..Hy weier om my gebed te verhoor..my pad met klip toegebou..my geen uitkomplek gelaat nie..Hy is soos ‘n beer wat my inwag, soos ‘n leeu wat my voorlê. Hy het my bitter dinge laat sluk, die lewe vir my bitter soos gal gemaak..my gruisklip laat kou..my in die grond getrap..alle rus van my af weggeneem, ek het al vergeet van voorspoed …ek het gedink dis klaar met my en my hoop op die Here!) Alles is verlore en daar is geen hoop meer oor nie. Israel is gekonfronteer met ‘n situasie waarvoor hulle teologiese sekerhede, soos verwoord deur die prediking van die priesters en kategese en godsdiensskrywers van hulle tyd, hulle nie voorberei het nie. Toe God anders is as wat die teologie gesê het , het die twyfel op hulle toegesak.

Gelukkig was die twyfelaar van Klaagliedere 3 ‘n gelowige mens. Toe daar om hom en voor hom geen skrefie lig meer was nie het hy omgedraai en agtertoe gekyk en Moses ver in die verskiet gesien: net na die episode met die goue kalf, toe God Sy volk wou uitwis! God wou Sy volk uitwis! ..God ?. Dis baie soos nou….Is daar dalk ‘n kant aan God waarvan hy nie vertel is nie het die klaer gewonder? Is daar ‘n donker sy aan God waaroor die priesters nie gepraat het nie? Miskien nie van geweet het nie? Is God dalk groter as die geloof in God? God wou Sy volk uitwis en Moses het vir hulle gebid: ”U is genadig en barmhartig Here, U bly nie vir altyd kwaad nie…”. Dit was deel van hulle eredienswoorde-tot Jona kon dit opsê. Maar toe het dit nog goed gegaan, en het die woorde nie eintlik sin gemaak nie. “U is genadig.. U bly nie kwaad nie..U het medelye.” 

Die onbekende God wat die klaer hier in Babel ontmoet, is dieselfde God as die Een wat die verdrukte slawe uit Egipte bevry het, wat die kalfdienaars vergewe het, wat dit nie oor Sy hart kon kry om Efraim te straf nie….Dis Sy aard om medelye te hê met mense wat wanhoop. Miskien is daar dan tòg hoop .. Miskien! Miskien moet hy wag….miskien nie so hard kla nie nie..wag op God se erbarming en medelye? Die vreemde, verborge God is nie Iemand anders as die God wat hy ken nie. Die God wat kasty is die God wat red. Daarom is daar hoop. Daarom is daar plek vir geduld. Daarom kan mens die juk met ‘n afwagtende gelatenheid op jou nek neem.

Is geloof om alles te weet en van alles seker te wees? Is dit ‘n skande om te twyfel? Is dit ongeloof om God nie in ‘n situasie te herken nie? Is dit sonde as God nie vir jou wil klop met hoe die kategismus en die preke oor Hom praat nie? Nie as ons Klaagliedere 3 lees nie. ..Geloof is soms om nie her-of derwaarts te weet nie. Om dalk, soos dit vir ons voel, in ‘n onbekende God vas te loop. God is meer as wat ‘n kategismus oor Hom sê. God is groter as wat ons oor Hom kan preek. God is groter as ons woorde oor Hom. Die bekende Hollandse dominee van so’n paar dekades gelede, Jan Overduin, haal in ‘n boek van hom oor “Die Onse Vader” ‘n ene Jaap Zijlstra aan wat in ‘n gediggie sê: “ Vergeef mij dat ik met drie kleine letters U God noem, en denk U daarmee te noemen.” Kerkleer en kategismus en preke vertel ons maar iets van die God wat Hom aan ons geopenbaar het…En dis soms om na die God wat ons ken te vlug en te vra:”My God, waarom het U my verlaat?” U lyk vir my soms onbekend! Geloof is om na die God wat ons ken te gaan en te hoop: die Een wat medelye het met die een wat in die stof lê, die Een wat Sondag na Sondag vir ons sê: “Die Here sal jou seën en jou beskerm, die Here sal tot jou redding verskyn en jou genadig wees, die Here sal jou gebede verhoor en aan jou vrede gee” Geloof is om in ‘n tyd van twyfel, soos nou, geduldig op die seënende God te wag. Om in angs te kan sê: Miskien is daar hoop, en om met die bietjie hoop te bly wag op God met die wete dat dit nie Sy aard is om ellende aan te doen maar om te troos.:(Ons enigste troos in lewe en dood is dat ons aan Jesus Christus behoort.)

Ons hoef nie van alles seker te wees nie. Ons kan ook maar miskien-mense wees. Ook miskien –mense kan geloofshelde wees, want hulle wag met geloof en geduld op God. Hulle sê ten spyte van twyfel nog…Miskien!

Ek sluit met die gebed van Josuttis ( met erkenning aan Ferdinand Deist) effens gewysig.
Here ons bid op grond van U goedheid
Laat ons nie alleen met ons twyfel en vrae nie
Laat ons nie alleen met ons angs en eensaamheid nie
Laat die mense wat nie meer kan glo nie tog nie alleen nie
Laat die mense wat nie meer wil leef nie tog nie alleen nie
Ons bid om geloof in U genade
Here ons bid op grond van U barmhartigheid
Op aarde gaan dit maar onbarmhartig daaraan toe
Mense ly swaar as gevolg van moeilike ekonomiese tye
Mense word as gevolg van gebrek aan kos tot ‘n hongerdood veroordeel
Mense word in oorloë vermoor.
Ons bid om U erbarming
Here ons bid op grond van U trou
Vir ons goddelose en liefdelose en hooplose mense
Dat dit nie verby is
Met ons en ons lewens
Met ons huwelike en ons werk 
Met ons geloof en ons kerk nie   
Daarvoor dank ons U
Omdat U groter is as ons geloof en ongeloof
Prys ons U
Die God van Israel
Die God van Jesus,
Die Vader, die Seun , en die Heilige Gees.
Amen.

Ds. Hennie Horn (Emeritus) .
Montanapark, Pretoria
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: