Doen goed en hou aan daarmee - 28 Mei 2020 (Dag 63)
Lees: 1 Petrus 4:12-19
Meeste mense se natuurlike geaardheid het één leuse: 'n Oog vir 'n oog, en 'n tand vir 'n tand! As iemand iets leliks aan jou doen, dan kook dit in jou are, en jy kan nie tot rus kom voordat jy die persoon teruggekry het nie.
In die Bybel word hierdie leuse 'n nekslag toegedien:
“Daarom moet dié wat ly omdat God dit wil, hulle lewe toevertrou aan die getroue Skepper, en aanhou goed doen!”
(1 Pet 4:19b)
Die tipe lyding waaroor dit hier gaan, is die swaar wat mense jou aandoen omdat jy erns daarmee maak om jou lewe – alles wat jy sê en doen – in te rig soos wat die Here dit wil hê.
En as dié tipe swaarkry oor jou kom, moenie verbaas wees asof dit iets vreemds is wat met jou gebeur nie; verwag dit en wees bedag daarop. Jou houding moet een wees van: Hier staan ek, ek kan nie anders nie! Jou hele optrede moet daarvan spreek dat jou uitgangspunt is: Ek vertrou my lewe toe aan my getroue Skepper!!!
Maar dit moenie net by praat bly nie. Hou aan goed dóén! sê die Here deur Petrus. Wat mense ook al aan jou doen . . . ! Jy doen góéd, jy's vriendelik, jy gaan uit jou pad om ander te bevoordeel. En dit maak nie saak wat se reaksie jy kry nie. Van nature sal jy wil reageer met: Ek gaan ophou goed doen, ophou groet, ophou eer beskerm, terug oopvlek, swaard met swaard beveg!
Die boodskap is duidelik: Wanneer en deur wie ookal jy onverdiend kwaad aangedoen word omdat jy erns maak met die Here se opdragte - moenie jou van stryk laat bring en terug kwaad doen nie: hou aan góéd doen!!!
Kyk jy terug op ‘n lewe waarin jy God se genade raaksien? Dank Hom dan vir sy genade in Jesus Christus en wýs jou dankbaarheid deur aan Hom toegewyd te lewe.
Prof. Fika J van Rensburg
Potchefstroom