Wie dra die kroon? God of Korona - 29 Julie 2020 (Dag 125)
In ’n mens se wanhoop vra jy dikwels: Wie dra die kroon? God of Korona? Dit is ’n vraag wat ons hede en toekoms raak. Dit is ook nie net ’n intellektuele vraag nie, maar ’n vraag want al ons emosies betrek.
Wat staan ons te doen in die tyd van Korona? Ons kan gerus weer die Evangelie van Johannes gaan lees. Die eerste Christene het hulle sending met drie dinge begin: trane by ’n graf, geslote deure en twyfel. Dit is die belewing van vele mense. In die krisistyd vra sommige mense: kan die gode ons nie dalk help nie?
Die gode daag bewend en druipstert by Olimpus op.
Op die aarde voer haat en oorloë hoogty, die aarde
bedek haar kinders se bloed met ’n roukleed.
Die moeder skud onder die gewig van vernielsug,
kwaadwilligheid, jaloesie, diefstal en moord.
Armoede begrens mense tot sinkkrotte, brood
is skraps, rotte snuffel met honger-harte rond.
Rassisme vlam onstuitbaar met mening op,
wysheid word deur dwaasheid onderdruk.
Van al die wandade en mensonterings moet Ares,
die oorlogsgod, en Athena, die godin van wysheid,
verslag doen, hulle is verslae en is hul aanspraak kwyt.
Die ander gode skud hulle koppe en sug moedverlore.
Almal hou asem op toe Asklepios, die god van genesing
opstaan en al hakkelend en verleë van ’n dodelike virus
berig: Corona het met mag en mening toegeslaan,
viroloë kan die klein verwoester nie opspoor nie,
die ganse wêreld is in Corona se noodgreep.
Een na die ander word ten spyte van mediese sorg
onder ’n doodskleed tot lyke en geraamtes verdoem.
Mense wat hulle op afgode verlaat,
bly sonder uitsig in Ellendestraat.*
Kan ons op gode vertrou? Nee, duisendmaal nie. Die gode is magteloos. By die doodstyding van ’n geliefde kan ons ons harte leeg huil. Soos Maria buite Jesus se leë graf. Ons mag maar twyfel soos Maria Magdalena, Petrus en Johannes. Jesus se weg. Hulle is agter geslote deure.
Ons mag in die tyd van Korona huil en twyfel. Dit voel of al die deure gesluit is. Ons is ingegrendel. Maar ons mag ook daarmee ophou. Want Korona dra nie die kroon nie. Maar God wel. Jesus het opgestaan. Hy het die dood oorwin. Hy is die waarborg dat ons geliefdes onder wie Korona maai, eendag in heerlikheid sal opstaan en vir ewig sal leef. Intussen het Jesus aan ons die Trooster (Johannes 14;26) nagelaat. Hy droog ons trane af, neem ons twyfel weg. Hy maak die deure vir ons oop. Hy verseker ons dat Jesus leef. Die Trooster verseker ons: geen dood of lewe of engele of bose magte kan ons skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus ons Here is nie. Nie Korona nie, maar God dra die kroon.
Prof. Cas Vos
Pretoria
* Die gedig kom uit Cas Vos se bundel, Beskut teen vrese, wat binnekort by Naledi verskyn. Prof Cas Vos is emeritus-dekaan van die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van Pretoria.