Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
God se logika - 29 Junie 2020  (Dag 95) 

HANDELINGE 2:1-13 & 36
 VERS 36: Laat die hele huis van Israel dan vir seker weet dat God Hom Here en Christus gemaak het – hierdie Jesus wat julle gekruisig het.

Jerusalem, ‘n Sondag in Mei, ongeveer 30 in ons Christelike jaartelling. Met skrik beleef die inwoners van die stad ‘n magtige stormwind wat deur die stad waai. Een van die huise is stampvol vroom Jode vanuit die joodse verstrooiing. Skielik begin almal tegelyk brabbel; onordelik, in bekende en onbekende tale. 

Jerusalem soek na ‘n verklaring. Wetenskaplik kan die data net op een manier verklaar word: hulle is dronk! Menslike logika bied ‘n onweerspreeklike bevinding: die verstand is verwar deur alkohol. En Jerusalem lag (vers 13). 

Dan staan ‘n eenvoudige visserman op en bied ‘n logieser uiteensetting. ‘n Man met slegs matriek in die Wet van Moses agter sy naam. Sy verduideliking vloei vanuit ‘n hoër logika: God se Logika! Dis ‘n veel hoër logika omdat dit op stewiger data rus, dit verreken die getuienis van die Woord van God. Op daardie stadium die hele Ou Testament. God Self het die mikroskoop gegee waardeur hierdie mensvreemde verskynsel besien moet word. Wie deur Sy mikroskoop kyk, herken die inhoud van God se Logika: dit gaan om Jesus van Nasaret, God se Man. 

En terwyl Jerusalem lag, werk God se Gees. Ongeveer 3 000 laggende Jerusalemmers vind in God se Logika oneindig meer om oor te lag: die evangelie van Jesus Christus, hierdie Jesus wat julle gekruisig het! Goddelike Logika: God het Hom Here en Christus gemaak, teenoor menslike logika: wat julle gekruisig het. Hierdie Jesus wat julle gekruisig het, is God se onbeskryflik-heerlike antwoord op die mens se diepste ellende, nl. verlorenheid. Dis ‘n ellende veel erger as enige siekte-pandemie. Maar ‘n pandemie wat gestuit kán word, wat God reeds gestuit het. Die bewys daarvoor is die skare sondaars wat op Pinkstersondag, en al die pinkstersondae daarna, die vrede ervaar wat ,,daardie Logika” in ‘n ontredderde lewe bring.

 God se Logika maak van die mens se verleentheid ‘n Goddelike geleentheid.

Die Christelike kerke in Suid-Afrika mág weer eredienste hou. Onder streng voorwaardes, so streng dat die koste aan een enkele erediens so groot is dat geen enkele gemeente dit kan bekostig nie. Menslike logika en toegeeflikheid? Maar dis God se geleentheid. HY het aan die kerk tegniek geskenk met die doel om die evangelie wêreldwyd te verkondig: Hierdie evangelie van hierdie Jesus moet in die wêreld verkondig word tot ‘n getuienis vir al die nasies (Matteus 24:14). Ja, mense het die rekenaar, selfoon, sosiale media gekaap in diens van die bose, om haat aan te blaas. Volgens menslike logika is die kerk van Christus se hande afgekap. Volgens God se Logika is die kerk se mond nie toegestop nie. Kerke kan hierdie Jesus verkondig – nie net binne elke gemeente nie, maar veel wyer, die moderne heidendom in. 

 Volgens menslike logika is die kerk slagoffer – van die pandemie. Volgens God se Logika is die kerk oorwinnaar met die boodskap van hierdie Man, wat God Here en Christus gemaak het! Dink aan ons geleentheid: as elke Christen wat toegang het tot die internet, die sosiale media, die mobiele stelsel, die evangelie uitstuur in die wêreld in ... ! 
Dr. Samuel van Vuuren
Drie Riviere
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: