Genade = om vir die verkeerde mense om te gee: Dit skep hoop! - 29 Mei 2020 (Dag 64)
Paulus sê vir Timoteus in 1 Timoteus 3:9 “Hou in alle opregtheid aan die geopenbaarde waarheid van die geloof vas”. Die “geopenbaarde waarheid” is in die 1953 Afrikaanse vertaling met “verborge bedoeling” vertaal. In die Grieks is dit die “misterion”, die misterie van God.
Wat is die misterie van God dan? God se misterie is dat mense nie na Hom hoef te soek nie. Hy soek mense op, hy knoop verhoudinge met mense aan. Hy doen dit van die begin af. In Jesus het God hom vir die soveelste keer geopenbaar, nie omdat die mense daarvoor gevra het nie, maar juis omdat Hy so besluit het. Genade is dus juis om vir die verkeerde mense om te gee: Mense soos ek en jy, binne ons unieke situasie. Dit skep hoop!
Daarom laat ons nie ’n enkele dag die son sak voordat ons tasbaar omgegee het vir minstens een van God se gunstelingmense nie. Ons skep geleenthede om iets vir onbelangrike mense te beteken, vir ’n arme, ’n verstoteling, ’n sieke, hulle in afsondering wat vereensaam. Ons wil leeg word van onsself en wil diensknegte wees vir net een persoon langs my, ons. Dis meer as genoeg. Een dag op ’n slag, een mens op ’n keer.
Om ander mense se lewe te verander is die Here se afdeling. Maar ons wil graag daar wees waar die Here deur ons sy veranderingswerk doen. Die Drie-enige God gee vir verkeerde mense om. Hy maak van hulle en nou ons sy kontakpunte hier op aarde.
Die bewys daarvan volgens Prof Johan Cilliers is “dat Jesus die meeste van sy tyd deurbring op die oop see waar die sondestorms woed. Hy het die name en adresse van al die drenkelinge, én die reddingstoue om hulle te red. Dit is sy gunstelingwerk want sy lewe draai om verlore skape, verlore munte, verlore kinders - hiervoor laat staan God net mooi alles!”
Jesaja 40:31 sê: “Maar die wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie”.
Peter Drucker vra ’n goeie vraag: “What can I and only I do that, if done well, will make a real difference?” Kom ons gebruik hierdie vraag ook vandag as ’n leefriglyn. Dit sal bepaal of ons elke dag op die doeltreffendste manier tot God se eer gebruik. Ons wil nou elke dag ons tyd en energie afstaan en met passie toewy aan al die goeie dinge waarvoor die Here ons geroep het, soos Paulus in Efesiërs 2:10 sê.
Dit is alleen moontlik as ons in toewyding aan God lewe. Toewyding wat groei, toeneem omdat ons al meer daarin geoefen word. Toewyding kan ook vertaal word met “oefen in godsvrug” of “in die dinge van God” of “in ‘n verhouding met God”.
‘n Lewe wat aan God toegewy is, word ‘n lewe wat God in hierdie wêreld vertoon. Ons vertoon God wanneer ons diensbaar is en terwyl ons dien groei en ontwikkel ons in sy diens.
Vader wees U asseblief opnuut ons pasaangeër sodat ons in pas met U kan leef! Ons wil op arendsvlerke sweef sonder om moeg te word. Maak ons ook opnuut weer diensbaar ten spyte van ons vrees, onsekerhede en twyfel ook op die 49ste dag van ingrendeling!
Want Genade = om vir die verkeerde mense om te gee: Dit skep hoop!
Dr Jan Botha
Mootvallei, Pretoria