Onthou, Ek is met julle - 3 April 2020 (Dag 8)
Jesus verskyn vir die laaste maal aan sy dissipels. En nou volg vertroostende woorde: Aan My is gegee alle mag gegee in die hemel en op die aarde ... (Matt 28: 18 Direkte Vertaling)
Hierdie mag het Hy nie wederregtelik verkry nie. Hy het dit nie op Hom GENEEM nie. Dit is aan Hom GEGEE. Hy is daarmee BEKLEE deur Hom, wat die Oórsprong van alle mag is: Gód, Sy Váder. Hy is die Opgestane Middelaar.
By geleentheid wou Satan hierdie mag aan Jesus géé as loon vir óngehoorsaamheid aan God.
Na Jesus se opstanding, ontváng Hy dit alles as loon - van Gód - opgrond van sy géhóórsaamheid áán Gód.
Daarom kán Jesus sy universéle heerskappy áánkondig. En kyk, Ek is met julle al die dae tot die voleinding van die wêreld." Daarom die troos, dit is nie Satan nie ... ALLE mag is in die hand van Jesus Christus die Here.
En asof dit nie genoeg troos is nie, voeg Jesus nog hierdie woorde by: En kyk, Ek is met julle al die dae tot die voleinding van die wêreld." (Matt 28: 20, Direkte Vertaling). Niemand minder nie as EK is met julle. Die woord EK staan voorop. Dít kry die klem.
Dog Jesus werk deur sy Heilige Gees. Daarom het Hy gesê: Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle 'n ander Parakleet gee, sodat Hy vir ewig by julle kan wees. (Joh 14: 16 Direkte Vertaling).
Dit is 'n belófte en 'n féít. Hy wil dit beklemtoon. Daarom sê Hy: “Kyk”, “let op”, “gee aandag”, “onthou”. As julle troos uitdeel en andere ondersteun ... As julle besig is om my saak te bepleit ... Ek is by julle.
Jesus Christus is by ons. Deur sy Gees woon Hy in ons. Hy wil ons in die geloof versterk. Hy wil ons versorg, beskerm, bewaar. Daarom hou Hy sy hand oor ons uitgestrek. En dit is nie maar net bedoel vir die vérre ewigheid nie.
Nee, AL DIE DAE - dag in en dag uit. Ek is met julle al die dae tot die voleinding van die wêreld." Al die dae - alle dae - elke dag. Sondae en weeksdae. Helder sonskyn dae en somber bewolkte dae. Winterdae en Somerdae. Herfsdae, Lentedae van die lewe. Noem maar al die verskillende moontlike omstandighede op: Siekte, virusse, pyn, bekommernis, vrees, eensaamheid, vreugde én geluk. Ook die dae as my pad by 'n oop graf verby moet gaan. Ook die dae as my lewensmaat, of my kind, uitgedra word en ék alléén moet agterbly. Maak die lys van dae maar lank. Jesus Christus is met ons. En dit bly só tot die éínde van die tyd.
Hierdie belofte: Onthou, Ek is met julle ... Geld vir óns, vir ons kinders én vir ons kleinkinders én ons óngebore nageslag - ál die dae.
Jesus Christus is met ons Onthou, Ek is met julle - Ek - Jesus, die Middelaar - die Een wat opgestaan het - die Oorwinnaar.
Ds. Pieter Strumpfer
Montanapark, Pretoria