Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Die Here is my Herder - 3 Augustus 2020 (Dag 130) 

LEES: Psalm 23
TEKS: Psalm 23:1
“Die Here is my Herder, ek kom niks kort nie.”

Dis ongekend! Niemand het die huidige omstandighede al belewe nie. Ons wroeg oor talle kwessies: Die moontlikheid om siek te word, en die talle sterftes. Die verswakkende ekonomie, en ons kinders wat werkloos raak.

Dis in sulke omstandighede dat ons stoei met Bybelse waarhede, en biddend pleit dat die Here ons hoop sal vernuwe. Dawid skryf immers: “Ek kom niks kort nie.” Iemand wat net op hierdie paar woorde fokus, kan die afleiding maak dat kinders van die Here nóóít aan iets ‘n tekort sal hê nie. Nooit sal siek word nie! Nooit geliefdes sal sien swaarkry nie!

Lees ons Psalm 23 egter noulettend, dan sien ons tog onderliggende negatiewe momente:

Om in “groen weivelde te rus”, belig die teendeel, naamlik plekke waar onrus belewe word;
Om by “waters waar daar vrede is” te kom, belig die teendeel, naamlik plekke van onvrede;
Om “nuwe krag” te ontvang, belig die teendeel, naamlik die belewenis van kragteloosheid;
Om “op die regte paaie” gelei te word, belig die teendeel, naamlik om koersloos te kan wees;
Om in “donker dieptes” neer te daal, en om op grond daarvan as volwassene “bang wees”!

Ons maak ‘n reuse fout om op grond van ons teks te reken dat kinders van die Here nooit aan iets ‘n tekort gaan hê nie. Ons móét rekening hou met die waarheid, naamlik dat ons ons in ‘n gebroke werklikheid bevind. Die allergrootste fout wat ons kan maak, is dat ons die deurslaggewende woorde in Psalm 23 vers 1 miskyk:
“DIE HERE IS MY HERDER, ek kom niks kort nie.”

Daar is iets uitsonderlik aan die Here se herderskap. Ons sal dit snap die oomblik wanneer ons weet hoedat die herders in Dawid se tyd hul herderskap beoefen het. Hulle het nie soos die veeboere in Australië te werk gegaan nie. “Down under” gebruik die boere diere om hul vee mee aan te jaag: Skaaphonde om die skape van agteraf aan te por, en die Australiese beeshond wat beeste saggies aan die hakskene byt, om hulle van agteraf aan te por ...

Destyds het die herders nie só aangejaag nie. Nee! Die herders het vóór hul vee uitgeloop! Die herder weet immers waar die “weiveld” én “water” én “rus” én “vrede” te vinde is. ‘n Goeie herder “jaag nie aan” soos die Australiërs nie! Nee, hy loop vóór hulle uit. Om by die allerbeste en die mees uitnemende te kom, benodig ons ‘n uitsonderlike Herder om vóór ons uit te loop!

Dit is in dié opsig dat Jesus Christus as ‘n uitsonderlike goeie Herder bestempel kan word:

Hy het vóór sy kudde uitgeloop, die doodsvallei betree, ons straf gedra, die satan en die dood oorwin, en uit die dood opgestaan. Met sy hemelvaart het Hy die weg vir ons voorberei. Hy sit aan die regterhand van God. Hy pleit vir ons (Rom 8:34)!

Voorwaar: Ons kan hoopvol wees! Jesus Christus ís immers die goeie Herder!

Dr. Willus Knipe
Faerie Glen, Pretoria
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: