Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Strek jou uit na wat voorlê - 3 Mei 2020  (Dag 38) 

So skryf Paulus aan die Filippense (3:13):”Ek vergeet die dinge wat agter is, en strek my uit na wat voorlê”. Die brief uit die tronk, gerig aan die Filippense staan vanweë die inhoud bekend as sy blydskapsbrief. Dit is nie sy omstandighede wat sy gemoedstoestand en ingesteldheid bepaal nie, maar sy geloof in Christus, en die beloftes van die Evangelie en die heerlike toekomsverwagting van God se koninkryk. Die gawes van geloof, hoop en liefde laat hom verby kyk by die dinge wat hier en nou met hom en met die kerk en met die mensdom gebeur.

Ons weet dat Paulus homself as ‘n soldaat van Christus beskou het, en hier in Filippense 3:12-14 vertel hy ons wat die twee geheime is van die Christensoldaat, en wat die redes dus is waarom ons hier is:
• Hy sê: “Ek is deur Christus Jesus gegryp”-v 12; en
• Ek het ‘n roeping ontvang in Jesus Christus

Dit het in Paulus se geval natuurlik op pad na Damaskus gebeur (Hand 9), en van toe af was hy ‘n ander man. ‘n Slegte geskiedenis lê agter hom. Dit moet maar vergeet word. Toe hy nog ‘n vervolger van Christus en sy kerk was, was hy gedryf deur die volgende: (3:4-8)
• Sy rasegtheid as Jood;
• Dat hy ‘n afstammeling van die elite stam van Benjamin is;
• Dat hy student was in die beroemde universiteitstad van Tarsus;
• Dat hy boonop ‘n Romeinse burgerskap-status het.

Maar nou is dit alles – dinge wat hom onder die Jode beroemd gemaak het - waardeloos. Al wat nou saak maak is dat Hy Jesus Christus mag ken. Hy wat alles oorwin het en ook sal oorwin; wat alle mag het in die hemel en op die aarde. Wat regeer oor die ganse wêreld. En wat weer sal kom.

Daarom strek ‘n gelowige hom of haar uit na wat voorlê. By die verlede, hoe goed of sondig dit ook al is of was, kan ons nie vassteek nie. Ons moet vorentoe gaan. Voor ons lê nie net die hemelse vreugde nie, of die nuwe hemel en nuwe aarde nie, maar ook ‘n more en oormore wat oor ons gaan aanbreek en waar ons in God se kerk en koninkryk iets moet beteken, en onsself diensbaar moet stel. Hiervoor het God ons in Christus gegryp, of syne gemaak. Ons is nie net sy kinders nie, maar ook sy soldate. En voor ons lê in Christus nooit ‘n donker toekoms nie, maar ‘n nuwe dag wat wag om gebruik te word. Elke dag nader aan die dagbreek van ‘n nuwe hemel en aarde. Ons lewe immers na middernag toe dit donker was – met Christus se dood aan die kruis. 

God het ons in Christus op die geloofspad geplaas – ons is ‘n nageslag van vele voor ons op hierdie pad. “Laat ons voortgaan op die koers wat ons ingeslaan het” (vers 16).

Prof Dries du Plooy (emeritus)
Jeffreysbaai 
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: