Dof en raaiselagtig - 30 April 2020 (Dag 35)
Die laaste twee verse van 1 Kor 13 praat van ons wat nog kyk in ‘n dowwe spieël en ‘n raaiselagtige beeld sien, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is; nou net gedeeltelik, maar eendag ten volle ken. En nou bly geloof en hoop en liefde (1 Kor 13:12 en 13).
WAAROM ? Ja, dis seker die vraag wat deur al die eeue, wêreldwyd deur die meeste mense gevra is, en steeds gevra word. Ook jy en ek vra dit mos een of ander tyd in ons lewe. Vra dit ook nie sommer so in die lug nie nê; ons vra dit vir God. “Waarom Here?” Waarom juis nou? Waarom ook SA wat hierdie dodelike virus nie gespaar word nie?
Waarom? Die antwoord is eenvoudig: Ons weet nie! Ons weet doodeenvoudig NIE.
Ja jy kry gelowiges, ook geestelike leiers, wat meen dat hulle altyd ‘n antwoord op alles moet hê. En dan sonder huiwering, die een verklaring na die ander gee, asof húlle alles glashelder kan gee..
Ek is van mening dat ons as gereformeerde Christene ons eerder moet skaar by Paulus wat praat van ‘n dowwe spieël en raaiselagtige beeld; en daarom maar net gedeeltelik ken..
Maar juis daarom, is dit gelukkig nie al wat Paulus en ons vir mekaar kan sê nie. Die Here het ons immers nie alleen gelaat met ons waaroms nie. Hy gee vir ons wapens om te veg teen die waaroms van die lewe, in ons eie persoonlike lewe, en dié van ons nasie, én van die wêreld. Wapens waarmee ons elke dowwe spieël en elke raaiselagtige beeld, tog kan en móét hanteer: Vers 13 - “En nou, geloof, hoop en liefde, bly, hierdie drie..”
GELOOF. Ja wat ís geloof? Geloof is om aan die Here te bly vashou, al verstaan jy nie dit wat oor jou pad kom nie. Dis om te weet dat al die hare op my kop aan die Vader bekend is; dat daar nie ‘n mossie op die grond val of HY dra kennis daarvan - hoeveel te meer nog as een van SY kinders sterf, groot of klein.. Dís geloof. Om in elke situasie, goed of sleg, te sê: Ek verstaan nie, maar ek vertrou op God!
HOOP ? Hoop is mos om te weet daar kóm ‘n dag dat ons nie meer ‘n raaiselagtige beeld in ‘n dowwe spieël sal sien nie, maar die volle, helder beeld. Wanneer ons alles sal sien soos dit werklik is, en ons alles ten volle sal ken en verstaan soos God ons ten volle ken. En dat ons intussen met dié hoop in ons hart kan aanhou leef.
En dan LIEFDE. Liefde? Ja dis die grootste, sê Paulus. Dié liefde wat bly. Dis die belangrikste van alles - trouens, hiersonder is alles tevergeefs. Want alles sal verbygaan, maar die liefde vergaan nooit nie. Liefde wat ons geduldig maak, en vriendelik. Liefde wat alles bedek en alles verdra..
Geloof, hoop en liefde - dís wat die Here in ons hande en harte sit. Gebruik dit, in élke waarom-stryd, met die bede: Wees sterk!
Ds Willie Badenhorst (Emeritus)
Alberton