Hoop, die vaandel van ons toekomsinspirasie - 30 Julie 2020 (Dag 126)
Lees: Efesiërs 1:18
Gedurende krygsoperasies in die ou tyd het elke regiment mos sy eie kenmerkende vaandel gehad wat die krygers van daardie regiment in aksie moes lei. Daardie vaandel het nie net bepaal waar of in watter rigting die aksie moes wees nie, maar ook krygers geïnspireer om met waagmoed die stryd aan te durf.
Paulus identifiseer die Hoop in I Kor.13:13 as een van die drie belangrike vaandels wat 'n gelowige kind van God se lewe rig. Hoop Is een van die belangrikste oorlewings- en oorwinningspakkette van 'n gelowige se lewe.
In hierdie tyd van die Korona virus se aanslag op ons, ons geliefdes en ons gemeenskap se lewe hoor ons van, en ervaar ons self die uitdagende en neerdrukkende omstandighede wat hierdie virus veroorsaak. Ons is nie net geskei van ons geliefdes – ons kinders nie, maar kry ook tyding van ernstige gesondheidsprobleme wat hulle ervaar. Sommige van ons loop self deur met die aller naarste fisiese en emosionele ervarings en gevoelens. Moontlik moes jyself al iemand aan die dood afstaan. Is dit nie genoeg om die vlammetjie van hoop triestig laag in ons gees te laat brand – selfs al flikkerende wil dreig om uitgedoof te word nie?
Wat bid ek dan vir my kinders wat swaar kry?
Wat sal die las in my hart vir dierbares wat siek is, beter maak?
Wat sal die las van emosionele skommelinge vir my gees ligter maak?
Paulus was ook so bekommerd oor sy geestelike kinders wie se geestelike gesondheid vir hom swaar op die hart gelê het. As jong gelowiges het hul verdrukking, verarming en lyding ervaar.
Die eerste antwoord wat die Heilige Gees vir hom gee is: “Bid dat Hy julle geestesoë verhelder...”.
Dit is die vermoë om dìt raak te sien wat normaalweg nie sigbaar of opvallend is nie. Verhelderde geestesoë beteken:
• Beter kennis van God en van sy wil. Dit ontwikkel net deur getroue omgang met God deur sy woord en gebed en met medegelowiges.
• Ook die vermoë om in gebeure en omstandighede God se hand van leiding en beheer en ook versterking te raak sien.
Verhelderde geestesoë kyk anders na gewone dinge. Dit help dat 'n mens raaksien en insig kry van hoe God op 'n wonderbaarlike en onverwagse manier besig is in sy Koninkryk, met sy kerk en in die lewe van sy geloofskinders. Dit bring selfs 'n jong of swakke gelowige by 'n punt van sekerheid - soos Paulus sê: “Dat julle kan weet....” Dit is 'n versekerde insig in die betekenis van gebeure en 'n geloofsvertroue in God se hand wat dit juis só láát gebeur. Hierdie verhelderde geestesoë maak ook 'n hart gevoelig vir die behoeftes en nood van ander mense – hul kommer, eensaamheid, onsekerheid, hul vrees of minderwaardige gevoel..... ja al dié dinge wat ons nie vir ander mense se oë op die mou speld nie.
Deur hierdie verhelderde geestesoë kan ons raaksien “watter hoop sy roeping inhou”. Watter roeping? Dis daardie roeping waardeur God 'n mens uit die ongeluk van sonde, skuld en oordeel roep na die heerlikheid van sy lig nl. die verlossing om kind van God te wees. Verseker van God se liefde, lewensvoorsiening en beskerming onder alle lewensomstandighede. Dit is hierdie nuwe, vaste hoop wat ons en ons dierbares juis in hierdie moeilike tye nodig het. 'n Hoop wat vir ons in die rigting stuur van God se ewige plan met elke kind van Hom. Hy maak ons getuies van hierdie versekerde hoop dat God elke belofte in Sy woord deur Jesus Christus vir ons in vervulling bring. So kom die onsigbare ewigheid ook vir ons in perspektief en kan ons van hierdie ewige hoop deur alles heen getuig.
Ds. Hannes Smit (Emeritus)
Kleinmond.