Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Julle Vader weet wat julle nodig het - 30 Junie 2020  (Dag 96) 

Matteus 6: 7: … julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.  

Matteus beskryf hoe Jesus sy dissipels geleer het om te bid. Gebed, word beskryf as die hart van die Bergrede. Jesus raak twee misbruike onder die bidders van sy – ons - tyd aan: : Dit gaan om die aandag van mense (6: 5 en 6) en die aandag van God (6: 7).

In die tyd toe Jesus op aarde was, het die Jode gereelde bidtye gehad. Daarmee is op sigself niks verkeerd nie. Roetine en dissipline in die gebedsbeoefening is van groot waarde. Sommige Jode het egter op enige plek, ook op straat, gestaan en bid, as die gebedstyd aanbreek. So het hulle dan die aandag van mense op hulle vroomheid gevestig. Jesus leer ons egter dat die aangewese plek vir hierdie innige gesprek met God, is die privaatheid van jou binnekamer (6: 6).

Hiermee word die openbare gebed egter glad nie veroordeel nie. Daarvoor is daar ook ruimte; dink byvoorbeeld maar net aan gebed in die erediens, in gebedsbyeenkomste en vele meer geleenthede.  

‘n Tweede misbruik wat ontstaan was egter om die aandag van God te probeer trek. Veral by die heidene wat talle afgode aanbid het, het dit voorgekom. Die bedoeling was om deur (ydelike) herhaling van die god se naam, of deur toorformules of die lengte en frekwensie van die gebed, die god se aandag te trek. Dit is waarom Jesus baie pertinent die uitspraak van ons teks gemaak het: … julle Vader weet wat julle nodig het, … Ook vandag nog hoor ons dikwels dat die Here God letterlik talle kere in een gebed aangespreek word en sy Naam so eintlik ydel gebruik word. Sinne en frases begin en eindig telkens met die Naam van die Here.

Jesus se verwysing na … julle Vader weet … bedoel nie dat gebed onnodig of oorbodig is nie. Hy het ons juis geleer om te bid. In die Heidelbergse Kategismus (Sondag 45) bely ons dat: Gebed die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons eis. Maar gebedsverhoring is nie van ons mooi, verhewe, lang, ernstige of kettinggebede afhanklik nie. Die motief in die gebed sal deurslaggewend wees. AS ons gebede opreg en eerlik is, kan ons nooit te veel bid nie. Maak seker dat jy bedoel wat jy sê, voordat jy begin bid.

Hoe ons dan moet bid, het Jesus vir sy dissipels, en vir ons, geleer in die Ons Vader-gebed (6: 9 – 13). Hieruit leer ons eerstens die nabyheid van God ken: Ons Vader wat in die hemel is (6:9).  

Maar dan volg drie “U”-bedes, waar Jesus ons leer om te bid om die heiliging van die Vadernaam, om die koms van sy koninkryk en die geskied van sy wil.  

Daarna volg drie “ons”-bedes, waarin ons geleer word om afhanklik van God te wees vir ons daaglikse brood, om vergifnis van ons oortredings en bewaring van versoekings. So leer Jesus ons hoe God aan ons verbind is, en hoe ons aan God verbind is. Die Ons Vader-gebed behoort baie meer deur ons gebid te word, telkens asof ons dit vir die eerste maal bid.

Ons kan dus in diepe afhanklikheid van die almagtige, alomteenwoordige God, ons hemelse Vader, voortgaan met ons lewe, ook in en tydens die grendeltyd, in die wete: … julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra. Hy is tans besig en sal tot in die verre toekoms voorsien in elke behoefte, wat ons in gebed na Hom toe bring.

Ds. Pieter Strümpfer (Emeritus)
Montanapark, Pretoria
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: