Wees altyd bly - 30 Mei 2020 (Dag 65)
Lees: Fil 4:4-9
“Wees altyd bly” sê Paulus hier in vers 4! Hoe kan ek altyd bly wees? Daar is in ons huidige omstandighede te veel dinge wat mens bekommer en wat jou eintlik van jou blydskap beroof. Daar is die virus self – sê nou ek of een van my dierbares kry dit? Daar is die ongemak van die inperking en al die ongemaklike maatreëls en dan nog die ongelukkigheid oor die manier waarop dit deur sommiges hanteer word. Hoe maak ek nou met hierdie kwellende dinge? Die antwoord lê in vers 6: “Moet oor niks besorg wees nie , maar maak in alles julle begeertes deur gebed en met danksegging aan God bekend”
Anders gestel: Vertel die Here van al jou bekommernisse en sommer alles wat jou vreugde wegneem. Kan ek? Ja, want die hele Bybel is vol uitnodigings van die Here om tot Hom te bid oor enigiets. Weet beslis ook dat Hy jou nie sal wegwys of kwalik neem as jy in eerlikheid jou hart voor Hom leegmaak nie. Jesus het immers in Joh 6:37 gesê: “Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie” Trouens die Here laat vir Petrus in 1 Pet 5:7 skryf: “Werp al julle bekommernisse op Hom , want Hy sorg vir julle” Let tog asseblief op dat daar geen beperkings is op wat ek na die Here kan bring nie want as die Here sê “al julle bekommernisse” is niks uitgesluit nie.
As ek nou my begeertes (bekommernisse ingesluit) vir die Here vertel, sal die omstandighede dan verander? Nee, nie noodwendig nie maar iets gaan wel verander, naamlik my gemoedstoestand! Die wonderlike wat gebeur is dat ek vrede in my hart en in my kop kry (vers 7) Hierdie vrede is nie ‘n tydelike saak soos die vrede wat die wêreld bied nie. Dit is immers nie ‘n vrede wat afhanklik is van omstandighede nie Geen virus kan hierdie vrede infesteer en laat sterf nie. Hierdie is God se vrede wat blywend is. Ek word dan ook bewus van meer as net vrede wat in en by my is want vers 9 verseker dit wanneer hierdie gedeeltetjie afsluit met “En God wat vrede gee, sal by julle wees” Ja, nie net vrede nie maar ook die Gewer daarvan bly by my!
As gelowiges het ons juis die roeping om in hierdie tyd getuies te wees vir die Here. Ons moet ten spyte van hierdie moeilike omstandighede die onverganklike vreugde van die Here uitleef as bemoediging vir mekaar en getuienis teenoor die ongelowige. Ja, wees altyd, veral ook nou, bly in die Here”!
Ds. Faf Gertenbach
Jeffreysbaai