Die definisie van deernis - 31 Julie 2020 (Dag 127)
Lees: MATTEUS 13:37-39
Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en dié stenig wat na jou toe gestuur is.
Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaar maak soos ‘n hen haar kuikens onder haar
vlerke bymekaar maak, maar julle wou nie. ... .
Telkens wanneer ek hierdie woorde lees, bemerk ek ‘n stuk hartseer daarin. Die Here treur oor sy stad: geseënde, maar opstandige stad. Slagoffer van haar eie weerbarstigheid. Luister na die diep hartseer in sy dubbele aanspreke: Jerusalem, Jerusalem, ... . Soos ‘n ma trane-in-die-oë haar kind vermaan: my kind, my kind. Selfs in die verwyt: julle wat God se sendelinge verwerp. Daarin sit ‘n stuk patos. Selfs in die deernisvolle verwyt: Ek wou, maar julle wou nie, ... .
Dis Deernis.
Dan hoor ek nog ‘n deernisvolle klank in ons Here se aanroep: Dogters van Jerusalem, moenie oor Mý huil nie. Huil liewer oor julleself en julle kinders, want kyk, daar kom dae ... .
Smartvolle dae. Dae wanneer julle slagoffers sal word van God se toorn oor die goddeloosheid van die mensdom, wat ook júlle sal tref. Júlle is die slagoffers, nie die Kind van God nie.
(Luk 28:29]
Dis Deernis.
Hoe kan ons die deernis in die gebed van die Sterwende Een mishoor: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie. Die mense van Jerusalem kon wenners gewees het as hulle maar net die deernis kon onderken in daardie passievolle gebed. Geloof in God se wenplan het die verskil gemaak tussen slagoffer en wenner. As Jesus vir jou bid, kom dit uit sy hart uit.
Dis Deernis.
Êrens uit die agterste selle van my geheue tower Jesus se moederhen-gelykenis ‘n vae herinnering op. ‘n Vyfjarige seun speel in ‘n groot erf om ‘n huis buite Mafeking. ‘n Bruin hen wei met haar nege kuikens op die erf. Skielik begin die hen hard en dringend kloek-kloek. In die lug bokant die huis sweef die valk. Die kuikens skarrel onder die uitgespreide vlerke van die hen in. Almal behalwe een wat verward verkeerde rigting kies. Ek hardloop om die verdwaalde kuiken te red, maar die valk was vinniger as ek. Die kuiken het net een lang tjiieeep gegee. Toe stilte. Met trane in my oë kyk ek hoe die valk met die slap lyfie koers kry. Een verloor, agt gered.
Dis Deernis.
Uit die tragiese geskiedenis van Israel se ontrou vind ek ʼn ander blik op die Deernis. Op aangrypende wyse treur die profeet Jeremia oor Jerusalem. (Klaagliedere 3:31-33 – Direkte Vertaling):
My Heer verwerp nie die mens vir ewig nie; maar as Hy iemand bedroef het, ontferm Hy Hom met die volle omvang van sy troue liefde. Hy verdruk en bedroef mensekinders
teen sy sin.
In ons moderne sielkunde-jargon: Ons Here bedroef, verdruk ons selfs, maar met die diepste empatie! Hy kom staan langs my in die smart wat oor my gemoed spoel. Hy is hartseer oor my smart, maar dis noodsaaklik vir my ewige heil. Dis nie vir Hom lekker nie, en duur net so lank as wat nodig is. Hy treur saam met my. Ék wou, maar jý wou nie! Ook as die mensdom ly.
Dis Deernis!
Dr. Samuel van Vuuren
Drie Riviere