Hoe kan ons die toekoms ingaan? - 31 Mei 2020 (Dag 66)
Lees: Joshua 3:1-11
Elke mens en elke land kom die een of ander tyd by ʼn kruispad en daardie pad is onseker en donker. Die vraag is dan: Wat gaan op daardie pad gebeur? Weet u: Dit was die vraag waarmee Israel as volk van die Here geworstel het.
Die geskiedenis van Israel is baie goed bekend aan ons. Agter hulle het moeilike tye gelê. Hulle was slawe in Egipte gewees. Hulle het onder die leiding van Moses deur die Rietsee getrek en daarna het hulle 40-jaar in die woestyn rondgedwaal. En dan lees ons hoedat ʼn nasionale ramp vir Israel tref deurdat Moses dood is. Hy was eintlik dié een wat die volk die beloofde land moes inlei, maar as gevolg van sy ongehoorsaamheid by geleentheid, kon hy sy lewenstaak nie voltooi nie. God het hom na die berg Nebo geroep om daar te sterf.
Hierna roep God vir Josua en sê aan hom: “Moses my dienaar is dood. Maak jy nou gereed en trek deur die Jordaanrivier, jy en hierdie hele volk. Gaan na die land toe wat Ek aan hulle, die Israeliete, gee.” (Josua 1:2) Na al die jare van omswerwinge het die uur nou aangebreek dat Israel kon gaan woon in die beloofde land. God gee ook Josua die gerusstellende belofte in Joshua 1:9: “Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.”
Dan lees ons in Joshua 3 dat die volk Israel in hulle laer, langs die Jordaanrivier is. Aan die ander kant van die rivier lê die land wat vir hulle belowe is. Agter hulle lê die wonderlike verlossing uit Egipte en die sorg van die Here tydens die moeilike woestynreis en voor hulle lê nou dié land wat die Here vir hulle bedoel het as hulle nuwe tuiste.
In vers 5 lees ons dat die Here, deur Joshua vir hulle laat weet: Môre is die dag! Môre gaan julle deur die Jordaan in die land wat vir julle beloof is, intrek. Môre gaan daar wonders onder julle gebeur.
Ek glo op daardie oomblik het die toekoms vir Israel maar donker en onseker gelyk. Hulle het nie geweet hoe die toekoms gaan lyk en watter gevare daar moontlik op hulle wag nie. Ja inderdaad, hulle toekoms was nou donker en onseker. Hulle vraag was sekerlik: Hoe kan ons die toekoms ingaan?
Ek wil waag om te sê dat die vraag wat Israel oor die toekoms gehad het, is ook ons vraag. Ons staan tans ook voor ʼn onsekere toekoms. ʼn Onbekende pad lê voor, ʼn pad waarlangs ons gister en eergister nie getrek het nie, ʼn pad wat vir ons al moeiliker en donkerder word, steiler en gevaarliker. Daarom die vraag: Hoe kan ons hierdie onbekende toekoms ingaan?
In Joshua 3 kry ons die antwoord op hierdie vraag. Môre en die toekoms hoef nie donker en onseker te wees nie. Hoe môre en die toekoms gaan lyk, gaan afhang van wat ons vandag gaan doen. Wat ons vandag doen, mag die hele gang van môre verander. In Hoofstuk 3 word vir ons 3 dinge genoem waarmee ons die toekoms kan ingaan:
1. Glo en gehoorsaam God vandag.
Vers 3 sê : “Wanneer julle sien die Levitiese priesters dra die verbondsark van die Here julle God, moet julle van julle staanplekke af vertrek en die ark volg.”
Die verbondsark van die Here was die teken dat God onder Israel woon. Dit was die simbool van God se teenwoordigheid en leierskap. Om agter die ark aan te trek, het dus beteken dat Israel agter God moes aantrek die toekoms tegemoet. Hulle moes onvoorwaardelik volg in volkome gehoorsaamheid.
Ook ons word opgeroep om die toekoms in volle gehoorsaamheid aan God tegemoet te loop. Ons moet hom onvoorwaardelik volg en alles glo wat Hy vir ons in sy Woord sê en beloof. Ook doen wat hy vir ons sê.
2. Reinig julle vir die Here
In vers 5 sê Josua vir die volk: “Reinig julle, want môre gaan die Here wonders doen tussen julle.” Vir die reinigingsproses was daar destyds sekere voorskrifte wat die volk moes nakom. Hulle moes hulle byvoorbeeld vir die tydperk van reiniging van sekere aardse genietinge weerhou en hulle moes skoon klere aantrek. Dit klink dalk baie uiterlik, maar ons moet onthou dat hierdie uitwendige reiniging was simbolies van die eintlike heiliging wat binne in hulle moes plaasvind.
Soos wat hulle van sekere aardse genietinge moes onthou, so moes hulle ook in hierdie situasie waarin hulle was, hulle daarvan weerhou om bang en bekommerd te wees vir die ingaan in Kanaän en die vyande wat daar was. Hulle moes vol vertroue die wonders wat die Here belowe het om vir hulle te doen, afwag. Net soos hulle, hulle vuil klere moes uittrek en skones aantrek, so moes hulle alle sondige gedagtes woorde en dade wat daar in hulle lewens was, aflê net dit wat goed en reg en mooi is in die oë van die Here, dink en praat en doen.
Ook ons, moet ons daarvan weerhou om bang en bekommerd te wees oor wat môre en oormôre van ons gaan word. Ons moet ons “vuil klere” – al ons lelike gedagtes, al ons afbrekende woord en dade, ons traagheid om lief te hê soos ons Here ons geleer het – aflê en ons moet die “skoon klere” van gehoorsaamheid aan die Here oor die hele spektrum van ons lewe aantrek.
3. Luister na dit wat God sê
In vers 9 staan: “Josua het vir die Israeliete gesê: “Kom nader, luister na die woorde van die Here julle God!” Josua se oproep aan Israel was ʼn duidelik oproep: “Luister na die woorde van God.”
Die tyd het aangebreek dat ons opnuut weer ons ore moet spits en fyn moet luister na wat God vir ons wil sê. Te veel leen ons, ons ore uit vir die praatjies van mense en word ons opgesweep en paniekerig gemaak omdat ons nie altyd meer wil luister na wat God vir ons sê nie.
Ons staan voor ʼn onbekende toekoms. Niemand weet wat die toekoms vir ons gaan bring nie. In een dag of in een week kan daar ʼn radikale wending in ons lewe of land kom. Te midde van al hierdie onsekerhede word ons opnuut weer opgeroep: “Luister fyn na die woord van die Here julle God.” Hou daaraan vas in die sekere wete dat God getrou is en dat hy sal sorg en voorsien.
Ds. Kosie Loots,
Bromhof, Randburg.