Gooi af wat onnodig is - 4 April 2020 (Dag 9)
Wat dink u hiervan? Geniel de Villiers pak die Dakar tydren met mening aan en hak sommer ‘n klein sleepwaentjie by sy vertrek agter aan sy renmotor sodat hy alles byderhand het om al sy vriende by die wenstreep te onthaal.
Dit is nie net voorbarig en ondeurdag nie, sou u sê, dis dwaas! Niks wat in die pad van sy moontlike oorwinning staan moet so saam gesleep word nie. Dit is nie net die stuk dooie gewig wat sy spoed sou belemmer nie, dit sou sy maneuvrering van die motor in die wiele ry. En só kan mens maar vergeet om te wen.
Ons het skielik, nee, die ganse wêreld het oornag in ‘n snaakse soort wedren beland. Noem dit maar ‘n virus-wedren. Elke oomblik is nou uiters belangrik. Elke keuse dra gewig. En waar jy jou oog in hierdie tyd vestig, is ewe belangrik, nee lewensbelangrik! Wat jy dalk onnodig saamsleep – dit moet onverwyld heroorweeg word.
Geen wonder dat die Hebreërbriefskrywer ons vermaan dat ons in ‘n tyd van verdrukking en terneergedruktheid elke las (nou wat sou dit alles kon wees?) moet afgooi (12:1). Dat ons moet volhard. Dat ons die oog in die proses op Jesus moet hou…op die Gekruisigde en Opgestane Heer.
Interessant genoeg, daar staan geskrywe as resultaat van so ‘n ingesteldheid: dan sal ons nie “moeg word en uitsak nie”.
Vasbyt in ‘n moeilike tyd.
Ds Johan Botes
De Vlei
Prins Albert