Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Jou naam is al op die "trofee" gegraveer! - 4 Augustus 2020 (Dag 131) 


• “Ek het jou naam in my handpalms gegraveer, Ek sien jou mure altyd voor My” (Jes.49:16).

Toe ons Springbokke in 2019 in die eindwedstryd van die wêreldkampioenskap gespeel het, wanneer het ons geweet hulle gaan wen? Ons het dit eers later in die wedstryd geweet op grond van die punte wat hulle aangeteken het en die kort tyd wat oor was, waarin die opponente net nie weer kon inhaal nie. Maar ons was nie die enigste wat dit geweet het nie. Die TV-kamera het ons net so ’n vinnige blik gegee van die man wat besig was om die naam van die Springbokke op die goue beker uit te graveer nog voordat die eindfluitjie geblaas het. Toe die beker ná die wedstryd oorhandig is en dit hoog opgelig is sodat almal dit kon sien, toe was die Springbokke se naam reeds daarop gegraveer.

In Jes.49 gee die HERE die heerlikste beloftes vir sy volk wat in ballingskap is. Hulle kry swaar, omstandighede is sleg, hulle het alles verloor, hulle dink die HERE het hulle verlaat en vergeet (Jes.49:14). Hulle voel dat hulle besig is om die “wedstryd” te verloor. Maar oor alles heen skrywe die HERE: “Kan ’n vrou haar eie baba vergeet? … Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nooit vergeet nie. Ek het jou naam in my handpalms gegraveer, Ek sien jou mure altyd voor My” (Jes.49:16).

Dit kan jy vandag op jou eie lewe toepas. Nie een van ons lewens is volmaak nie. Ons ervaar soveel stryd en teenkanting. Ons weet nie wat vir ons voorlê nie. Ons spanning en onsekerheid vreet ons op. 

Maar te midde van dit alles gee die HERE vir ons so ’n vinnige vooruitskouing: “Jou naam word op die trofee uitgekerf, letter vir letter!” Jy het reeds oorwin, God het in Christus die oorwinning vir jou behaal. Op die dag wat Christus kom, sal die oorwinningstrofee hoop opgelig word, en jou naam sal daarop gegraveer wees. 

Jy kan daarom maar ontspan. Jy is steeds in die wedloop, maar jy kan rustig en kalm word, want jy is reeds ‘n wenner! “In al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet” (Rom.8:37).

Ds. Attie Beetge. 
Stellenbosch
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: