Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Praat mekaar moed in - 4 Mei 2020  (Dag 39) 

Praat mekaar moed in 

Lees: Galasiërs 6:1-10

Skrifoordenking: Soos wat die tyd aanloop en ons in week 6 van die inperking is, word ek al hoe méér bewus watter rol liefde en sorg onder mekaar speel. Ek beleef hoe gelowiges in WhatsApp-groepe, kleingroepe en Bybelstudiegroepe mekaar moed inpraat en in geloof versterk. Is dit nie presies wat Paulus in gedagte het as hy aan die gemeente in Galasië skrywe: “Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen, veral aan ons medegelowiges” (Gal.6:10).  

Die boere sal weet dat planttyd net ʼn sekere tyd in die jaar is en net ʼn sekere tyd lank duur. Dit word op ʼn stadium te laat om te plant. Paulus sê dat, geestelik gesproke, dit nou planttyd is. So lank as wat ons die geleentheid het om goed te doen, om ons tyd en lewe deur die krag van die Heilige Gees te gebruik om te doen wat reg is, moet ons dit met albei hande aangryp! Dit sluit in om goed te doen aan almal maar veral om goed te doen aan ander gelowiges. 

Ons is almal as gelowiges kinders in die huishouding van God. En om nou goed te doen in ons huishouding is ʼn belegging wat ʼn oes sal lewer vir hulle en vir ons beide nou en in ewigheid. Gebruik jy die geleentheid wat die Here vir jou gegee het?

Gebed: Drie-Enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, ons bid tot U in besef van ons totale afhanklikheid aan u goedheid. Ons erken u krag as Skepper van die aarde, U wat alles tot in die fynste besonderhede gemaak het en dit tot vandag toe nog onderhou. Skenk ons u genade en liefde in die dag wat voorlê. Help ons om hierdie geleentheid te gebruik om die saadjies van omgee en liefde te saai, en laat dit groei en ʼn groot oes lewer. Ons bid tot U om Jesus Christus ontwil. Amen.

Dr. Jan Lion-Cachet
Klerksdorp 
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: