Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Nie te gering om al 'n verskil te maak - 5 Augustus 2020 (Dag 132) 

Mens kan soms dink dat jy nie veel werd is nie, dat jy nie veel beteken nie, veral nie as jy ook nog vanweë omstandighede ingeperk word nie. Maar kan jy nie tog as Christen Iewers van nut wees nie? Al is dit hoe gering. In die Skrif lees ons van mense deur wie en met wie God groot dinge vermag het. Ons maak ook kennis met twee kinders wat op die regte tyd en plek 'n groot verskil gemaak het. 

In 2 Konings 5 is daar die verhaal van Naäman, die hoof van die leer van die koning van Aram, die vyand van Israel, wat melaats was. Sy vrou se bediende was 'n jong dogtertjie uit Israel. Sy het vir die vrou gesê: “Ag, as Meneer maar net by die profeet in Samaria kon uitkom, sat hy vir Meneer van sy melaatsheid gesond maak.” Sonder om hier verder daarop in te gaan, is Naäman, nadat hy homself op profeet Elisa se aanbeveling in die Jordaan gaan bad het, deur God genees. Dit het daartoe gelei dat hy besluit het om in die toekoms die Here, die God van Israel, te aanbid. 'n Dogtertjie se woorde op die regte tyd en plek het die verskil gemaak. 

In Johannes 6:1-15, lees ons van die vermeerdering van die brood. Toe Jesus 'n groot klomp mense na hom sien kom, sê Hy vir Filippus: “Waar kan ons brood gaan koop sodat die mense kan eet?” Filippus antwoord hulpeloos dat hulle nie genoeg geld het om vir so baie mense brood te koop nie. Simon Petrus sê toe vir Jesus, ook ewe hulpeloos: “Hier is 'n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense?” En dan gebeur die wonder-Jesus voed die skare met die seuntjie se bydrae. 

In Johannes 5:1-17 is daar 'n ander verhaal. Hierdie keer is Jesus die Een wat die verskil maak en waar daar iets baie interessants gebeur. By die bad van Betesda, waar 'n engel by geleentheid die water roer en die persoon wat eerste in is, genees was, gebeur daar 'n besondere ding. Jesus stap na 'n man toe wat al 38 jaar siek was en vra hom 'n skynbaar onnodige vraag: “Wil jy gesond word?” En dan is die man se antwoord nie dat hy gesond wil word nie, maar dat hy niemand het om hom bad toe sleep wanneer dit geroer word nie. Hartseer is sy antwoord: “Ek het niemand nie, niemand wat vir my omgee nie.” En dan word Jesus vir hom daardie Iemand waarna hy so verlang - Iemand vir iemand met niemand. Die Groot Geneesheer wat vir hom omgee. Iemand wat 'n verskil in sy lewe maak. 

Hoe kan ons selfs 'n klein verskilletjie in iemand se lewe maak? Die geleenthede is so beperk, so ingeperk. Ja, dit is so. Ons moet maar kreatief wees en benut wat ons het en glo dat die Here dit kan en sal gebruik. Hoe ervaar iemand in nood dit nie wanneer jy hom of haar per telefoon skakel nie. Iemand gee om vir my! En wat van 'n WhatsApp boodskappie stuur? En natuurlik die grootste wat ons as gelowiges vir iemand kan doen - ons kan bid! En wanneer jy so op een of ander manier uitreik na iemand, word jy die instrument waardeur Jesus die iemand in daardie persoon se lewe word. Niemand van ons is te gering om op een of ander manier in iemand anders se lewe 'n verskil te maak nie. 

Prof. Kobus Kellerman
Gordonsbaai 
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: