Hoop = Om weer my plek in God se wêreld te ontdek - 5 Mei 2020 (Dag 40)
Ons het “wees” geword! Ja sonder troos en sonder ‘n Vader. Die daaglikse twyfel, vrees, onsekerheid en uitsigloosheid het ons almal oorval, omsluit, vasgegryp en is besig om ons stadig maar seker te versmoor.
Dit is vir baie van ons die realiteit van ons lewe en bestaan gedurende die dae van ons ingrendeling. Hopeloosheid, uitsigloosheid en ‘n gedurige fokus op die negatiewe belemmer ons uitsig, drome en alledaagse leefwyse. Ons voel en weet selfs dat ons “wees” geword het en is!
Maar… Goddank, miskien is dit juis nou die beste tyd om moedig en nederig ons “hoop/plek” te ontdek en te vind in God se wêreld. As ek en jy weer ons plek vind in plaas daarvan dat ons soos gewoonlik probeer om vir God ‘n plekkie in ons wêreld te gee, kan hoop begin deurskemer.
Die psalmdigter stel dit so treffend in Psalm 104
1. Ek wil die Here loof!
Here my God, U is baie groot…
31. Mag daar aan die roem van die Here geen einde wees nie!
Mag die werk van die Here Hom vreugde verskaf,
32. Hy wat na die aarde kyk, en dit bewe,
wat die berge aanraak, en hulle brand.
33. Ek wil tot eer van die Here sing so lank ek lewe,
ek wil die lof van my God besing so lank ek daar is.
34. Mag hierdie bepeinsinge van my vir Hom aanneemlik wees!
Ek wil my in die Here verbly.
35. Mag die sondaars van die aarde af verdwyn,
mag die goddeloses ophou om te bestaan!
Ek wil die Here loof.
Prys die Here!
Volgens die roemryke Psalm is elke ding, alles deurspoel met God se teenwoordigheid. As ons dit weer so beleef dan weet ons God is ook sigbaar en tasbaar in my glasie wyn, in my saam-lag en huil, in my diepste nood maar ook waar ek die lewe uitbundig vier… ten spyte van die omstandighede hier en nou. Dank Hom vir die ete, mekaar en selfs die spieël waarin ek kan kyk. Kyk en beleef hoe daar vir jou gesorg word want Hy is saam met my aan tafel en selfs voor die spieël!
Hoop = om weer my plek in God se wêreld te ontdek!
Hoop is ook om dan met jou hele wese te wens dat jou geestelike lewe en belewenis van God se teenwoordigheid soos ‘n lente bries, self nou in die herfs, kan wees.
In dié tyd van wanneer ons wag op die uitstorting van die Heilige Gees, pleit en smeek ek dat ek weer hoop sal ontdek: my plek weer sal ontdek in God se wêreld!
Die psalmdigter van Psalm 104 het miskien iets daarvan beleef om “in God vas te kyk”! Hom op ‘n intiem, persoonlike asook besondere wyse te “sien”, te “voel”, te “proe”, te “ruik” en te “hoor”. Vir hom is God juis die dinamiese God wat werk, die God wat lewe en die God in wie se teenwoordigheid Hy en ons ook elke dag lewe en werk.
Ek, ons kan maar net stamel oor Sy werke en sag fluister: “Mag hierdie bepeinsinge van my vir Hom aanneemlik wees!” (Ps 104:34)
Nou het ek, ons weer hoop ten spyte van ons unieke “nou” waarin daar gelewe word. WANT: Hoop = om weer my plek in God se wêreld te ontdek!
Dr Jan Botha
Mootvallei, Pretoria