Ons moet hier wees - 6 April 2020 (Dag 11)
Jan van Riebeeck het na twee jaar se swoeg en sweet, sedert 6 April 1652, weens onopgeleide hande, met vele ontbering daarin geslaag om ’n verversingspos vir skeepsverkeer op dreef te kry, (C.F.J. Muller, 500 jaar Suid-Afrikaanse geskiedenis, bll. 17-26), maar toe nogtans ’n bede van hoop in sy dagboek aangeteken:
“Dat hierdie dag van die 6de April vir altyd tot eer van God as gedenkdag vasgestel word met dank en gebede vir die weldade wat die Here aan ons bewys het, sodat tot die eer van God die weldade deur die nageslagte onthou sal word.”
(my vertaling uit Nederlands, erkenning FAK se Afrikaanse Kultuuralmanak, bl. 107).
Prof. P.G. Nel, teken aan dat danksy Van Riebeeck se koms die Protestants- Gereformeerde Christendom ’n vastrapplek in Afrika gekry het. Sendelingspore is diep getrap op hierdie vasteland. Wie sal die nie-Christelike aanslae uit die noorde weerspreek as ons almal dink om te emigreer? Daar is seker ’n saak uit te maak vir die mening van ’n voormalige kerkleier dat die Afrikanerdiaspora die evangelie terugneem vanwaar dit gekom het.
Maar telkens wanneer die woorde van Lied 275 in die erediens opgegee word, wonder ek waarom Van Riebeeck se versugting ten opsigte van Stigtingsdag in kerklike onguns verval het. “O, God van Jakob deur u hand/ word steeds u volk gevoed/ U het weleer op see en land/ ons vadere behoed.”(Vers 1)
Dink net hoeveel onderskraging van moedeloses sal plaasvind as die kerk se almanakke op die Sondag naaste aan Stigtingsdag die bededag (nie vakansiedag nie) ter herinnering publiseer en die kansel in woord en gebed daarna verwys dat ons deur Godsbeskikking hier moet wees.
Dr Dunes van der Merwe
Somerset-Wes