Ononderhandelbares - 6 Augustus 2020 (Dag 133)
Jesaja 66:2b: Ek slaan ag op die mens in nood, op dié een wat berou het oor sy sonde, wat ontsag het vir my woord.
Daar is heelwat sake in ons aanbidding van die Here wat op die periferie, of te wel, verder van die middelpunt is. Dit is egter ook baie belangrik om na te dink oor wat die sake is wat tot die kern van ons kerkwees en verhouding tot God behoort. Ons kyk vandag, ter wille van die bepaling van ons prioriteite, na twee ononderhandelbares.
Die eerste en belangrikste ononderhandelbare, is om God te laat God wees. Hierdie stelling het dadelik verduideliking nodig. Die bedoeling is nie dat dit die mens is wat God in staat stel om God te wees nie. God is in elk geval God, ongeag wat die mens se siening van Hom is. Dit gaan eerder daaroor dat God werklik as God die eer moet ontvang wat Hom toekom.
Dit klink dalk na so algemene saak asof alle Christene van watter oortuiging ook al daarmee sal saamstem. In die praktyk kan ons egter baie maklik God uit die middelpunt skuif. Ons sang kan byvoorbeeld iets wees wat ons doen bloot "omdat dit lekker is", terwyl ons ons self probeer oortuig dat ons sing om God te eer. Wat gebed betref kan tegnieke wat daarmee gepaard gaan daarop gemik wees (al is dit nie doelbewus nie) om God te manipuleer.
Van Genesis tot Openbaring word die majesteit van God verkondig. Ons kultuur vertel ons dat ons God meer gebruikersvriendelik moet maak. Ons moet God egter ernstig opneem. Ons moet ons verwonder aan God in die gees van 1 Timoteus 1:17: “Aan Hom wat vir ewig Koning is, die onverganklike, onsienlike, enigste God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen”.
Die tweede ononderhandelbare is die gesag van die Skrif. Die groot twisvrae in die teologie kan alles herlei word na hierdie enkele saak, naamlik skrifbeskouing. Die debatte in kerke kom terug na die punt of die Bybel beskou word as Woord van God, of as Woord oor God. Dit is belangrik dat die Bybel as Woord van God deur ons aanvaar moet word en nie mense se opinies oor God nie. Die genoegsaamheid van die Skrif beteken onder andere dat mense se aansprake op drome, visioene, profetiese uitsprake en dergelike dinge nie aanvaarbaar kan wees nie.
Gebed: Here, U alleen is God. Ek verwonder my vandag opnuut aan U. Amen.
Dr. Enrico Casaleggio
Fichardtpark, Bloemfontein