Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Moenie bang wees nie - 6 Mei 2020  (Dag 41) 

Lees: Openbaring.1:17
Wie van ons was nog nie bang nie ? Onthou jy dit nog: Hoedat ons in die middel van die nag wakker geword en ons verbeel het daar is iemand onder ons bed - en ons was bang tot die dood toe. Hoe bang ons vir die eksamen was ? Vir ons pa toe ons kwaad gedoen het ? Vandag is ons almal bang vir die Koronavirus!

Hoe sal ons hierdie bang wees, hierdie vrese oorwin? Hiermee wil Openbaring 1: 17 - 18 ons help. Hierdie gedeelte praat van: Oorwinning oor vrees – en dan deur die geloof in Jesus Christus die opgestane en lewende Here!  

Vir Johannes, wat soos ‘n dooie van vrees aan Jesus se voete gelê het (vs.17), en vir sy mede Christene was die lewe na Jesus se kruisiging vreesaanjaend. Van alle kante is hulle vervolg en bedreig. Menslik gesproke was hulle kans op oorlewing gering.

Maar dan verskyn die opgestane en lewende Jesus aan Petrus op die eiland Patmos en DOEN iets en Sê iets wat die vrees uit Johannes se hart en lewe verwyder: “Hy het toe met Sy regterhand aan my gevat ….” Wat ‘n Sprekende daad. Want God se regterhand is ‘n beeld van Sy almag en krag – ‘n beeld dat Hy krag gee aan die wat geen krag het nie. En dan is dit die hand van Jesus -- dieselfde hand wat Hy, toe Hy hier op aarde was, op beangsde mense gelê het: blindes/ dowes/ verlamdes/ siekes/ bevreesdes -- ‘n hand wat geseën en gevoed en gehelp en kalmeer het. Deur hierdie hand op Johannes te lê, sê Jesus as’t ware vir hom: Moenie bang wees nie, Johannes, dit is Ek. Ek aan Wie gegee is alle mag in die hemel en op aarde …. Ek met My reddende regterhand, met My hand wat krag gee, My hand wat sorg en beskerm, wat seën en gesond maak, wat nooit laat vaar die werke van My hande nie. Ook maar soos ons maak wanneer ons ons hand op iemand se skouer sit om hom te verseker van ons ondersteuning, hulp en bystand. 

En asof dit nie genoeg is nie (2) PRAAT Jesus ook met Johannes: “En Hy het vir my gesê: Moenie bang wees nie – dit is Ek, die Eerste en die Laaste, die Lewende. Ek was dood en , kyk , Ek lewe tot in alle ewigheid” Johannes moet ook HOOR dat Hy, hierdie God wat so sorg en beskerm, seën en onderneem by hom is en altyd by hom sal wees. Hy kan ontspan. Voor iets nog daar was, was Hy reeds daar. Maar Hy sal ook tot die laaste nog daar wees. Ook wanneer die grotes en magtiges van hierdie wêreld tot stof teruggekeer het, sal Hy nog daar wees. Johannes kan dus seker wees van Jesus se sorg, maar ook van Sy teenwoordigheid in hierdie lewe.

En so ook ons. Ons wat bang en bevrees is vir gevare en bedreiginge en virusse in hierdie lewe. Openbaring 1: 17-18 wil vir ons verseker: In Jesus Christus, die opgestane en lewende Here kan ons seker wees van God se sorg en teenwoordigheid in hierdie lewe...en daarna.

Ds Johann Smith 
Hermanus 
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: