Die Here gee Goddelike Hoop - 7 April 2020 (Dag 12)
Kom tot rus waar jy is. Sit af die TV en ander dinge wat jou aandag trek. Haal ‘n slag diep asem en maak gereed om die Here te ontmoet. Kry jou Bybel in jou hand en hou dit ‘n slag styf vas – sommer maar net as ‘n simbool van die Here se teenwoordigheid!
Ons is op reis na Paasfees. By al die chaos om ons, is dit juis nou ‘n kosbare geleentheid om te fokus op die kruis en die opstanding van ons Here Jesus. Almal van ons loop met ‘n groot stuk onsekerheid in ons gemoed. Ons weet nie hoe lank die huidige omstandighede gaan voortduur nie en nog minder wat die toekoms inhou. ‘n Gewone nagmerrie is verby as jy wakker word. Hierdie “nagmerrie” gaan ongelukkig nie sommer so verby nie. Daarom: Kom ons verskuif ons fokus van hierdie onsekerheid na die enigste ware sekerheid wat ons ken: Ons Here.
Skatkis
Jare gelede het ds. Kobie Linde, die dominee by ons VCSV by Hoërskool Adamantia in Kimberley, hierdie storie vertel: “Twee plaasmuise het in die melkkamer op ‘n propvol, oop roomkan afgekom. Hulle spring toe sommer in en lê weg aan die room. Toe hulle dik gedrink is, wil hulle weer uit, maar van al hulle drinkery het die room toe te laag gesak en hulle kan nie uit nie. Met groot oë staar hulle na mekaar – wat nou? Die een muis het so bang geword dat hy net daar begin sink het tot op die bodem. Die ander een het ook nie geweet wat om te doen nie, maar het toe begin swem – al in die rondte – om en om en om...... Hy was later pootuit, maar het net aangehou. Teen die tyd dat die son opkom, was hy doodmoeg, maar toe kom hy agter dat hy kort, kort iets raak skop. Van al die swem, ............. het hy die room tot botter gekarring. Hy kon na ‘n ruk op ‘n groot klont botter klim en uiteindelik toe uitspring na veiligheid.” Die lawwe storie vertel een groot waarheid: HOU AAN.
Die vraag is HOE? Onthou!!!
Die Here gee Goddelike Hoop, daar waar geen menslike hoop is nie.
Dit is heeltemal in orde as jy voel dit is darem ‘n vreemde verhaal! – immers, hoe op aarde gaan dit my help om iets van God te verstaan of ons help in ons oomblik van benoudheid?
Verduideliking:
Esegiël 37:1-14: Die teks bevat twee gedeeltes van – kom ons noem dit ‘n droom (visioen). Vers 1-10 oor die droom en v11-14 die uitleg.
Die Esegiël verhaal vertel van mense wat hooploos was. Alles was tot niet. Hulle krisis het nie drie of ses weke geduur nie, maar tot 70 jaar van ballingskap. Alles is verwoes. Daar was geen uitsig op die toekoms nie.
Die profeet praat in ‘n idioom van hulle tyd: “Ons bene is opgedroog”. Ons sou gesê het: “Julle, dit gaan rof”, of .... “dit is klaar met ons”, ....... of “dit is nag”.
Menslik gesproke is daar nie hoop nie. Sulke beendere kan mos nie lewe nie.
En tog ................God gee weer lewe.
Wanneer die Gees soos wind oor die beendere waai, kry hulle asem en begin hulle lewe. Vir die eerste hoorders van hierdie profesie was dit ‘n kragtige boodskap van hoop. Dit is ook in ons omstandighede kragtig.
Die Here gee Goddelike Hoop, daar waar geen menslike hoop is nie.
Soms voel jy lam soos die een muis. Ons hoef nie – ons kan aanhou, al is die omstandighede hoe moeilik of onseker. Waar God is, word dood lewe en lewendes geroep om die lewe te lééf. Kom ons bemoedig mekaar – bid vir mekaar en bel mekaar (sommer netnou as jy hier klaar is) met hierdie wete: Die Here gee Goddelike Hoop. (Dink net wat dit vir die persoon vir wie jy bel sal beteken as jy vir hom/haar ‘n gebed oor die telefoon doen!)
Onthou ook: Uit elke stukkie dood, hartseer, pyn, sukkel en swaarkry, kan God nuwe lewe, ‘n nuwe begin en nuwe moontlikhede laat ontstaan. Al voel ons self dikwels asof die omstandighede soos ‘n swaar donker kleed oor ons gevoelens, gemoed en gedagtes hang, is die Here inderdaad in ons omstandighede teenwoordig. Daarom: HOU AAN.
Ons kan hierdie Hoop ‘n Naam gee: Jesus Christus!
Johannes 11: Let op v 25 & 26. Dankie tog dat hierdie verse in die Bybel staan! Paasfees kry sommer vir my nuwe betekenis.
Ons almal vra dat die Here ons sal bewaar in hierdie onseker tyd. Die meeste mense wat siek word van die Koronavirus, word gelukkig weer gesond. Dit is egter heel moontlik dat van ons, of van ons dierbares, nie gesond sal word nie. Ons sekerheid lê egter nie in die vrywaring van die Koronavirus nie, maar is ons verbintenis aan Jesus Christus van Paasfees.
Vrede vir jou.
Ds. Gert Kok
Eendekuil, Wes-Kaap