Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Hartseer kan lei tot genesing - 7 Augustus 2020 (Dag 134) 

Lees: 2 Korinthiërs 7 : 8-11. Fokus: Vers 9.

Hoe hanteer ons ons pyn? ʼn Mens is seker selde bly as iemand seerkry of hartseer is. En tog is hartseer deel van ons bestaan — seker veral nou, wanneer mense na mekaar verlang, of dierbares aan die dood afgee, selfs meer as normaalweg. So ʼn soort hartseer, sê sielkundiges, kan selfs help om jou trauma beter te verwerk. In die moderne tyd, egter, is daar baie wat probeer om smart en hartseer te vermy. Kalmeerpille moet dit doen. Dwelmmiddels of aangeplakte vrolikheid is party se toevlug, Ons ken ook baie ander maniere om slegte gevoelens te probeer verdryf.

Ook wanneer mense hartseer is oor hulle sonde, of verkeerde optrede, maak baie mense dit op allerlei maniere af. “Aag, vergeet van die gebooie van die Here-dan voel jy nie so skuldig nie. As jy sleg voel oor iets in jou lewe — kyk na ander mense om jou. Baie mense doen meer sonde as jy.” So kan ons die verskonings en verkleinering van verkeerde dade vermenigvuldig.

Die regte adres.
Tog weet ons: Daar is skuldgevoelens wat heilsaam kan wees — indien jy na die regte adres gaan daarmee. In ons teksgedeelte praat Paulus oor ʼn slegte gevoel in die hart wat tot genesing gelei het. In sy eerste brief aan die Korinthiërs het Paulus hard gepraat of geskryf oor dinge wat onder die mense van Korinthe verkeerd was. As Paulus se tweede brief dan by hulle aankom, het hy hulle al oor baie van die dinge vermaan. Ons noem enkeles: In Paulus se eerste brief het hy gepraat oor hofsake tussen gelowiges, hoogmoed en sedeloosheid: Daar was die feit dat hulle nie groei in hulle geloof nie, en daar was selfs misverstande tussen Paulus en die Korinthiërs. Daar was sake waaroor die mense Paulus ook verwyt het. Tog lees ons in 2 Kor 7 dat die Korinthiërs hulle van baie van die dinge bekeer het. Om die rede kan Paulus met groot dankbaarheid sê: Hy is bly sy vermaninge kon hulle hartseer maak sodat hulle tot inkeer kon kom. Om gesond te word is mos ʼn goeie ding. Ons hou nie van pyn in ons liggaam nie. En tog is pyn soms nodig om ons te laat verstaan: Iewers is daar fout met ons. Dit oorreed ons om genesingsmiddels te gebruik of ʼn dokter te besoek. Dit het die mense van Korinthe gedoen toe hulle hul sonde besef het. Hulle het hulle met berou bekeer.

As mense wat erns maak met die Woord van die Here, moet ons nie probeer om sonde af te maak as van minder belang nie. Jy is seker bekend met die uitdrukking: Daaglikse bekering is nodig. Bekering gaan daaroor dat ons sleg moet voel en bekommerd wees oor die verkeerde dinge, groot of klein, wat ons elke dag doen. Dit moet ons na die Here bring met berou. Hy, die groot geneesheer, sal dit vergewe. Dis gevaarlik vir ons geestelike lewe om sonde te ignoreer of op allerlei wyse te probeer wegpraat — soos baie onverskilliges en ongelowiges dit doen. ʼn Siekte wat jy ignoreer, kan gevaarlik wees. Wanneer die Here beproewings toelaat, is daar beslis ʼn doel daarmee. Juis die huidige Covid-omstandighede kan en behoort beslis daartoe te lei dat mense die vraag vra: Hoekom word ons so getoets? Met droogtetye hoor ons immers baiekeer dieselfde vraag. Eerlike selfondersoek lei tot verootmoediging. Kom ons ondersoek onsself ook nou in dieselfde gesindheid.

Paulus dank die Here dat die mense van Korinthe gereageer het op sy vermaninge. Hoor hoe lig hy die positiewe uit - uit die pyn van sy vermanende woorde. “Kyk net wat die ervaring van droefheid volgens die wil van God aan julle gedoen het. Daar is by julle erns, verantwoording, verontwaardiging, ontsag, verlange, ywer en bestraffing van die kwaad.” (2 Kor. 7:11) Mag ook ons beproewing in die tyd lei tot so ʼn selfondersoek. Dìe pad lei na die genesing wat Christus ons bied

Ds. Anton van Rensburg
Bellville 
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: