Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Hierna - 'n altaar van Hoop - 7 Mei 2020  (Dag 42) 

Lees Genesis 8:1-12 en 16-20

n Paar dae gelede bel my veearts, of liewer, my honde se veearts, my en gesels met my oor hoop. Sy praat oor Noag en die ark, en hoe die wêreld na die vloed moes gelyk het. Nou moet ek erken, dat die eerste gedagteprentjie wat ek kry as ek aan Noag dink, is die prentjie in so ‘n groot bruin kinderbybel van ‘n duif met ‘n groen olyftakkie in sy bek. Dit het die gedagte by my gelaat van ‘n pragtige, groen bergtop van die berg Ararat waarop die ark rus, en dat Noag-hulle toe weer normaal met hulle lewens kon aangaan. Ek herinner my ook dat daar ‘n prentjie in was van Noag en sy mense op ‘n grasgroen heuwel besig om te offer.

Maar ís dit ‘n akkurate prentjie? Dink aan die televisiebeelde wat ons op programme soos byvoorbeeld National Geographic sien van hoe die omgewing lyk na ‘n groot vloed. Op die program Destroyed in Seconds, sien mens dit keer op keer: dit is een, groot pap moddergemors. Dit vat maande en maande se werk en opruim om die omgewing weer leefbaar te maak. Die skade wat water kan aanrig is onberekenbaar groot, die verwoesting, verskriklik.

As ons nou net bietjie aan Noag se situasie dink: Dit het veertig dae lank aanhoudend hard gereën. Na 150 dae het die water so ver gesak dat die ark op die 17de van die sewende maand op Ararat gestrand het. Die water het aanhou sak tot op die eerste van die tiende maand, toe die bergtoppe sigbaar geraak het – amper drie maande later. Drie maande na die aanvanklike 40 dae en die 150 dae wat die water gesak het tot op die 17de van die sewende maand. Hoe klink dit vir jou vir grendeltyd? 

Toe laat Noag die duif los en die kom onverrigter sake terug. Sewe dae later laat hy weer die duif vlieg, en toe kom die duif terug met die reeds genoemde olyftakkie in die bek. Sewe dae later laat hy weer die duif vlieg, en dié kom toe nie weer terug nie. Op die 27ste van die tweede maand is Noag-hulle toe op bevel van God uit die ark uit.

Kan jy jou indink hoe het dit rondom hulle gelyk? Beslis nie die groen heuwel van die kinderbybel prentjie nie. Meer waarskynlik is een groot modder en slik gemors. 

En wat is Noag se reaksie? “Here, hoe op die aarde gaan ons oorleef? Here, hoe verwag U van ons om aan te gaan? Here, die wêreld is een pappery – daar is niks oor nie. Hoe verwag U moet ons lewe?” Nee, Noag lees ons in vers 20, het toe ‘n altaar vir die Here gebou en geoffer. Dankie, Here, U het ons hierdeur bewaar en ons weet U sal ons – hoe sleg die aarde nou ook al lyk, hierdeur lei.

Ons hoor ook baie voorspooksels van hoe ons lewens na hierdie pandemie nooit weer dieselfde gaan wees nie – hoe alles gaan verander – ten minste vir die afsienbare toekoms. Skole, werkplekke, kerke, teaters, lugrederye, gaan anders wees. Baie mense gaan waarskynlik van hulle huise af werk. Afstandsonderrig sal waarskynlik meer en meer plaasvind. 

En, eerlik is eerlik: so maklik kan die gedagte daaraan ‘n mens angstig maak. Waarskynlik leef in ons gedagtes ook maar dieselfde vrae wat destyds in Noag se gemoed geleef het. Sal ons kan aangaan? Hoe sal ons aangaan? Hoe gaan die veranderinge ons persoonlik raak? Niemand weet nie.

Maar wat ek wel weet, is dat dieselfde God wat destyds vir Noag en sy mense en diere in die ark en daarna bewaar het, is ook dieselfde God wat ek en jy ons Vader noem. Niks aan God het intussen verander nie. Niks het intussen aan sy liefde vir en omgee vir mense verander nie. Nou waarom sou ons dan angstig raak? 

Te midde van en na die inperking het niks aan ons roeping verander nie, naamlik dat die Here ons as sy mense en sy kerk roep om vissers van mense te wees – hoe die omgewing hierna ook al daar gaan uitsien.

Die heel eerste ding wat Noag en sy mense ná hulle maandelange grendeltyd in die ark gedoen het, was om ‘n altaar vir die Here te bou en te offer. Dankie Here vir U bewaring!

In stede van doemprofeties dink en praat, kom ons dink eerder aan die altaar van dank wat ons hierna gaan oprig en hoe ons die Here met hernude ywer gaan dien. 

Ds Willem Petzer
Oos-Londen
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: