Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Is daar Hoop in die Groot Lydingsweek - 8 April 2020  (Dag 13) 

Dinsdag die 7e April het die Covid-19 besmette gevalle in die wêreld die 1,3 miljoen merk verbygesteek. Daar is alreeds 75 973 mense dood aan die virus. Hier by ons was dit net so oor die 1686 gevalle en 12 mense dood. Die hele wêreld word hierdeur geraak en ‘n hopeloosheid pak selfs vir my en jou beet. Wat nou?

Vanjaar het Aswoensdag op 26 Februarie geval. Aswoensdag is die begin van die veertig dae Lydenstyd. Lydenstyd is 'n tyd van selfondersoek, skuldbelydenis, vas, gebed en veral diens aan ander, ons mede- ja ewe-mens. Dit is 'n tyd waarin ons elkeen nóg meer as gewoonlik die Bybel lees en die blye nuus oordink. Deur dit alles berei ons voor vir Paasfees asook die Opstandingsvieringe, wat die hoogtepunt van die kerklike jaar is.

Die gebruik met Aswoensdag is dat die palmtakke van die vorige jaar se Palmsondag verbrand word, met olyfolie gemeng word en dan in die vorm van 'n kruis op die voorkop van lidmate gevorm word met die woorde "mens, dink daaraan dat jy stof is en tot stof sal terugkeer". As is egter nie net 'n teken van ons verganklikheid nie, maar ook van boetedoening (vgl. die gebruik om as op die kop te strooi as teken van berou).  

In die Groot lydingstyd, wat alreeds die Sondag begin, volg ons Jesus se voetstappe. Dit begin waar hy vir twee hopelose blindes juis hoop bring. Ons lees in Matteus 20:29-34 daarvan. Hulle roep na hom. Hy het gaan staan, hulle geroep en in gesprek met hulle getree. Hy vra vir hulle wat hy vir hulle kan doen. Hy vra vir hulle alhoewel hy geweet het wat hul allergrootste behoefte is. Hul hoop het in die moontlikheid van die onmoontlike gelê: die moontlikheid van geopende oë! Hulle grootste wens was: “Here dat ons oë oopgaan”.

Dan lees ons van die aangrypende maar tog tere en eg menslike reaksie van Jesus. “Hy het hulle innig jammer gekry, in die Grieks: uit sy binneste en hulle oë aangeraak. Dadelik kon hulle sien en het hulle Hom gevolg!”

Dié twee wat “gehoor” het dat Jesus verbygaan, want hulle was blind, waag dit om iets te doen ten spyte van hulle eie hopeloosheid. Hierna volg hulle hom nou as siende en hoopvolle navolgers!

Hierdie blindes is destyds gesien as onrein, nie welkom by en tussen hul families nie en ook nie welkom in die stad nie. Hulle was dus ook glad nie welkom in die tempel nie. Hulle tel nie, hulle sit letterlik en figuurlik op die kant van die samelewing. Hulle was randfigure, nulle in die wêreld se oë!

Ten spyte van Jesus se innig jammer kry, uit sy binneste volg ons sy voetspore van vernesering, verwerping, hoon en spot tydens die Groot lydingsweek. Selfs sy dissippels verloën, verraai en verlaat hom. Hy sterf “hopeloos” en roep uit: “My God, my God waarom het U my verlaat?”

Ek, jy en ons voel soms en ja miskien veral in die tyd van inperking, grendeling ook so. Veral so as die onsigbare virus ook my en ons veilige ruimte binnedring.

Onthou Lydenstyd is 'n tyd van selfondersoek, skuldbelydenis, vas, gebed en veral diens aan ander, ons mede- ja ewe-mens. 

Is daar Hoop in die Groot Lydingsweek? Is daar hoop vir my en jou asook vir ons gebroke en verwonde hopelose wêreld?

Onthou: Dit was Jesus se laaste wonderwerk wat Hy gedoen het voor die Grooste wonderwerk ooit: Sy opstanding uit die dood. Hierby baat ek en jy...hopeloses wat ewige hoop ontvang! 

Daar is dus HOOP! Van Aswoensdag tot opstanding Sondag loop die goue draad van Hoop. Kom ons vier dit!!!

Dr Jan Botha
Mootvallei, Pretoria 
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: