Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Sal dit ooit weer goed kan gaan?- 8 Augustus 2020 (Dag 135) 

Fokusvers: Daar is baie wat sê: “Wie sal dit weer met ons goed laat gaan?” (Psalm 4:7)

Wanneer ons in groot beproewing kom, maak ons berekenings en kom tot die slotsom dat dit nooit weer goed kan gaan nie. Ongelukkig is daar soveel (doem)profete en die sosiale media verhoed dat ‘n mens apaties staan oor die krisistye. Slegte nuus stroop ons van hoop. Dit lyk of die stryd teen die Covid-19 virus vergeefs is. Mense het nie vertroue in die regering nie. Mediese sorg dreig om in duie te stort. En dan nog onophoudelike korrupsie en misbruik. 

Wie kan dan nog hoop hê? ‘n Mens wil nie die krisis afmaak as “nie so erg as wat hulle sê nie”. Moontlik is jou lewensomstandighede veel beter as miljoene in die wêreld. Tog is daar baie wat vra: “Wie sal dit weer met ons goed laat gaan?” Hoe beantwoord jy daardie vraag? 

In Psalm 4 beskryf Dawid sy situasie met ‘n vraag: Hoe lank gaan julle my eer nog skend, mense, gaan julle valsheid liefhê en voorkeur gee aan leuens? (vers 3). Sy lewe word bedreig. Mense wat moet regspreek het afgodsdienaars geword, wat leuens aanhang en nie vertrou kan word nie. En dit is hulle optrede wat mense laat vra: Wie sal dit weer met ons goed laat gaan? Daar is so baie dinge wat ons vandag ook kan aanteken onder die opskrif: Leuens en bedrog, valsheid en korruspsie. Na wie sal ons gaan om omstandighede te verbeter? 

Die Here gee deur die digpen van sy dienskneg vir ons hoop. As jy met ‘n positiewe ingesteldheid die aand bed toe wil gaan, moet jy twee dinge doen. Eerstens – moenie sondig wanneer jy onsteld is nie, dink in stilte na en laat dit daar (vers 5). Sonde volg op ontsteltenis, wanneer ons ons geloof prysgee of soos afgodsdienaars ons hoop op leuens plaas. Dan tree ons lasterlik teenoor God op. Dan vloek ons Hom in ons binneste. Dan verwyt ons onregvergdiglik. Wees stil, dink na oor wie God is, gee jou aan Hom oor en laat dit daar. 

Tweedens – vertrou op die Here, want Hy laat ons veilig woon (vers 9). Vertroue op die Here word versterk deur na sy beloftes en sy dade in die verlede te kyk. Dawid bely God se grootheid, dat Hy wonders doen om sy volk te red, dat “die Here vir Hom ’n gunsgenoot afgesonder het” (vers 4, OAV). Waarlik Hy was getrou in die ou verbond, maar ook nou in Christus. Hy sal sy kinders wat Hom bly dien nooit verlore laat gaan nie. Hy hoor as ek Hom aanroep en gee uitkoms. 

Wat staan my en jou te doen in hierdie onrustige tye: Raak rustig by jou Here. Gaan in jou binnekamer. Dink na in die lig van die Skrif, waarin God sy almag en liefde vir sy kinders openbaar. Roep Hom aan. Dan kan jy onbesorg aan die slaap raak. Bely openlik wat jy glo, want so versterk ons mekaar!

Dr. Callie Opperman
Swakopmund. 
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: