Die toekoms mét God - daarvoor sien ek kans - 8 Mei 2020 (Dag 43)
Lees Jakobus 4:13-17
Kyk net waar trek jou jare al! Dit voel soos nou-die-dag toe jy 'n tiener was! En hier tel jy dalk nou al onder die "seniorburgers"! Die tyd vlieg inderdaad, en dit laat mens dié waarheid besef:
FOKUS Julle is maar 'n damp wat 'n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn. (Jak 4:14)
Jy weet hoe die stoom wat by 'n kokende ketel uitkom, maar net 'n breukdeel van 'n sekonde dáár is. Só kortstondig is jou eie lewe eintlik. Mens vergeet dit, en praat oor jou toekoms asof God glad nie in die prentjie is nie. Veral wanneer dit goed gaan, kan jy maklik 'n vermetele gevoel van onafhanklikheid kry wat maak dat jy grootpraterig en met sondige selfversekerdheid oor jou toekoms-planne praat, sonder om ooit te dink of te sê: "As die Here wil!" Jy vergeet dat jou sukses nie deur jou eie goedheid is nie, maar deur God wat jou genadig is. In elk geval weet jy nie eers hoe jou léwe môre sal wees nie en of jy enigsins nog gaan lewe nie. Daarom moet jy oppas om nie groot te praat oor dinge wat rus op die veronderstelling dat jy gesond is en lewe nie.
Vermetele grootpratery oor wat jy alles vandag of volgende week of hierdie jaar gaan doen, is nie net grootdoenerigheid voor ménse nie, maar uiteindelik ook teenoor die Hére. Jy wys dat Hy vir jou irrelevant geword het.
Hou dus in die toekoms jouself dop wanneer jy oor jou toekomsplanne praat. Wys dat jy besef hoe afhanklik jy van God is. Dit beteken nie dat jy vol twyfel oor jou toekoms moet wees nie. Jy móét selfversekerd wees. Maar nie omdat jy jou eie krag ken en daarop staatmaak nie. Eerder omdat jy die Hére se krag ken, en dáárop staatmaak. As jy dít doen, word God se toekoms jóú toekoms. En sy toekoms kán jy met 'n selfversekerdheid wat vir niks skrik nie, binnegaan.
Prof Fika J van Rensburg
Potchefstroom