Christus se kruisiging en opstanding:Wat beteken dit vir Sy kinders - 9 April 2020 (Dag 14)
Lees: Romeine 6:3-11
Op die oomblik is dit Paastyd. ‘n Tyd om die dood van Jesus te gedenk. Ons word tans duidelik herinner aan die dood, as ons hoor van so baie mense wat sterf. Die virus, siektes, ongelukke en ouderdom, eis oral sy tol. Paulus praat in ons Skrifgedeelte nie net oor Jesus se dood nie. Hy verwys ook na die groot oorwinning wat Hy aan die kruis en opstanding daarna behaal het. Die oorwinning, oor Sy eie dood, maar ook oor die dood wat Sy kinders moet sterf.
Wat beteken dit prakties in my lewe?
Paulus wys in Romeine 6 hoe my geloof my verbind aan die dood en opstanding van Christus. Om dit te illustreer, gebruik hy die doop as voorbeeld. Destyds is die doop dikwels deur onderdompeling onder die water uitgevoer. Paulus gebruik die beeld van onderdompeling.
Die simboliek is: Wanneer iemand gedoop word, is dit ‘n simbool van die sondige ou mens wat as’t ware sterf soos iemand wat verdrink onder water. Ons word in die dood van Jesus gedoop. Soos Hy in die aarde verborge gelê het vir drie dae, is ons ook begrawe wat die ou mens betref. Dit moet praktiese implikasies hê vir ons lewe, broeder en suster. Kras gestel: Dis onnatuurlik vir ‘n lyk om rond te loop.
In die daaglikse bekering, is dit nodig dat ons onsself moet ondersoek en vra: Het ek vandag se onsekerheid, krisis of selfs vrese gedra soos iemand wat nuut is, herbore is in Christus,? Het ek dalk nog te veel gereageer soos iemand wat nog nie in die nuwe lewe saam met Christus opgestaan het nie? Het ek dalk humeurig, kort van draad, of vreesbevange na my slegte omstandighede gekyk? Of weet ek seker: Ek het saam met Jesus opgestaan in ‘n nuwe lewe. ‘n Oorwinningslewe. ‘n Nuwe lewe waar niemand my kan skei van Jesus en sy oorwinning nie. Waar ek anders reageer op die sonde, vrese en onsekerhede van ongelowiges om my. Soms moet ons dus vra: Het ek nie dalk vandag iets gedoen of gedink wat meer lyk na ‘n dooie mens se dade as na iemand wat leef in Christus nie?
Om te leef in Christus: Dit, sê Paulus, is eintlik ons bestemming. Soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, kan ons ook ‘n nuwe lewe lei. (vers 4)
Die geloof wat die Heilige Gees in ons teweegbring, beteken ons weet: Die ou sondeliggaam is in die graf. Ons staan saam met Jesus op in ‘n nuwe lewe. Dit beteken dat ons die sonde, onsekerheid en vrese hoe langer hoe meer afsterwe en vir ons Koning leef - onder alle omstandighede. Ook die slegte omstandighede wat die hele wêreld nou belewe.
Die logika van Romeine 6 is baie duidelik: Daaraan herinner Paasfees en Opstandingsdag ons: As Jesus sterf, en ons sondelewe sterf saam met Hom deur Sy bloed: Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe? (vers 2)
Paulus skryf: “Julle moet dus altyd onthou dat ook julle vir die sonde dood is, maar vir God lewe omdat julle een is met Jesus Christus.” (Rom.6:11) Ons het in ‘n nuwe lewe opgestaan Kom ons leef dit uit, ongeag watter negatiewe omstandighede ons ook al mag beleef.
Ds. Anton van Rensburg
Bellville