Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Waar is jou God nou?- 9 Augustus 2020 (Dag 136) 

Lees: Psalm 42
Hierdie Koragiet was gewoond aan die nabyheid van God waar hy in die tempel sy tyd deurgebring het, In Dawid se tyd was die Koragiete veral verantwoordelik vir die sang in die heiligdom en by feestelike geleenthede. Ons sou hierdie Koragiet kon beskryf as " 'n man wat in die kerk grootgeword het." Hier kon jy die nabyheid van God voel. Alles was vir hom vanselfsprekend. Hier is die altare waarop die wierook gebrand word . Hier is die ingang na die Allerheiligste, waar hyself nie mag ingaan nie, maar wel die Hoëpriester een keer in die jaar om 'n offer ter versoening van die volk se sonde te bring. God was so naby.

Waarom hierdie Koragiet in die Hermongebergte is (waar die Jordaanrivier sy oorsprong het) , weet ons nie; ook nie hoekom hy nie padgee as hy daar so ongelukkig is nie. Hy is in vertwyfeling (3X). Mense wat hom ken, boor in sy hart in met hulle spottende vraag: Waar is jou God nou? Nie 'n onbekende spotvraag in ons tyd nie! Dit is tipies van die mens, opgebaas deur sy hubris, selfingenome dat hy alles kan beheer en alles kan herstel wat stukkend geraak het. Daar is niks buite wat hy kan sien, wat materieel is nie.  

Hoe reageer ons in omstandighede wat buite ons beheer is? Soos nou, wanneer 'n klein virus ons tot grendelstatus afskaal. Om nie te praat van die haglike toestand waarin ons land verkeer nie. Wetteloosheid in elke faset van ons samelewing. Ook die wêreldtoneel is in baie opsigte 'n slagveld: besoedeling van die atmosfeer, die verhitting van die aarde, die anargie wat oral hoogty vier, die verhitte verhoudinge tussen nasies wat net 'n sterk vonk benodig om uit te bars. Ons is so weerloos met al ons grootdoenerigheid en al. Het ons 'n toevlug onder al die bedreigings?

In Ps 42 smag die Koragiet daarna om weer die intieme gemeenskap met God te beleef wat hy tevore geniet het. Hy wil die lewende God beleef in 'n intieme verhouding. Hy wil God beleef as die lewende God, warm naby hom. Dit is sy dors, soos 'n wildsbok wat smag na water. Hoe sal hy uit hierdie vertwyfeling ontsnap? By hierdie vraag bly die meeste mense radeloos staan. Waar is die God wat Hom wil laat ken as die lewende God? As jy hier vashaak. kom jy in vertwyfeling, en jy kan maklik daarin bly as jy nie 'n antwoord kry nie. Sommige mense meen hulle kan daardie afstand wat hulle tussen hulleself en God voel, oorbrug deur hulleself in 'n toestand te verbeel dat hulle 'n direkte kontak met Hom het. Hy praat met hulle, Hy stuur boodskappe. Verskeie mense "sien" wonderwerke gebeur waarvoor hulle dikwels met oorgawe gebid het.

Hulle "voel" selfs die nabyheid van God. As hulle God nie emosioneel kan beleef as byderhand nie, skop vertwyfeling in.

Kom ons kyk watter weg ons Koragiet volg om uit sy vertwyfeling te kom. Let op: Elke keer as hy sy vertwyfeling noem (v 6 a en b, 12), antwoord hy self sy vraag: "Vertrou op God" (v. 6b, 12). Dis die antwoord. Dit klink dalk soos 'n afskeep-antwoord vir mense wat in hooploosheid verval het. Nie vir die Koragiet nie. Sy vertroue op God is volgepak met Hoop.

Hy verwag om weer vir God 'n loflied te sing(v. 6b, 12). Geen sprake meer van vertwyfeling nie. Sy vertroue op God hou in dat hy in Hom glo as "my helper en my God." Intiem en persoonlik. 

Egte geloofsvertroue is geanker in wie God is, Hoe ken ons Hom? Ons ken Hom as die Getroue. So stel God Hom in Ou en Nuwe Testament aan ons bekend as die God van trou. Hy hou Homself aan sy woord, sy beloftes, sy bedoelings. Daar is twee woorde in Ou en Nuwe Testament wat God se handelinge met ons inhoud gee: Liefde (genade, goedheid) en Trou. In Hebreeus: chesed we 'emet. So is God in sy handelinge met ons . Daardie Liefde (genade) en Trou (waarheid) vind sy vervulling in die werk van die die Here Jesus Christus (Joh 1:16, 17; Rom 1: 18,19.). Met alles wat Jesus sê en doen, laat God die Vader ons ook sien wie Hy is en wat Hy doen. En Hy doen dit uit liefde en in absolute trou aan sy Woord. Dis hier waar die Koragiet sy vertwyfeling oorwin en sy hoop weer vlam vat, naamlik wanneer hy God weer reg leer ken, die God wie se dade ingeweek is in chesed we 'emet (genade en trou).  

Jy en ek, ons almal beleef tye en gebeurtenisse wat ons in vertwyfeling bring. Daarmee kan ons vreugde in die Here en ons hoop op Hom boomskraap raak. Sommige se koppe hang gedurig, lofliedere word vervang met klaagsange. Sommige soek na buitengewone ervarings en gebeurtenisse wat hulle gemoed kan oplig. Nee, leer ken God vir wie Hy is, soos Hy Homself deur eeue aan mense geopenbaar het. Wat ons "geloof" noem, is hierdie wete dat Hy 'n God van genade en trou is. Om Hom as sodanig te vertrou met jou lewe. 

Ds. Alwyn du Plessis (Emeritus) .
Stellenbosch.  
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: