Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Die vrug van die saaiers se werk - 9 Mei 2020  (Dag 44) 

In Lukas 8 vertel Jesus aan die skare die gelykenis van die saaier. Hy vertel dat die saaier saai en die saad op vier verskillende “soorte” grond val. Elke soort grond lewer volgens sy eie aard ‘n resultaat. 

Jesus sluit die gelykenis af deur uit te roep: Wie ore het en te hoor, moet luister! Daarmee gee Hy wil Hy sê dat nie almal die gelykenis verstaan nie. Net mense wat ‘n oor ontwikkel het om die betekenis van Jesus se woorde op te vang, sal kan verstaan. En aan hulle sê Jesus dat hulle moet let op die betekenis van hierdie gelykenis.  

Die betekenis bly egter selfs vir die dissipels duister. Daarom gee Jesus self die verklaring. Uit sy verklaring blyk dit dat Jesus dit vertel om aan te dui wat gebeur as mense sy prediking hoor. Hy wil wys dat sy Woordbediening mense se lewe vernuwe. Hy sê nie wie die saaier is nie, maar bepaal Hom by die saad en die geaardheid van die grond waarin die saad val.  

In sy verklaring gee Jesus die sleutel tot die verstaan van die gelykenis: die saad is die Woord van God, die prediking aangaande die koninkryk van die hemele. Deur die prediking word die Woord soos saad uitgestrooi in die verwagting dat dit in goeie aarde sal val en vrug sal dra. Maar die gehalte van die grond verskil. Die gelykenis het betrekking op die skare soos hulle voor Jesus vergader is en is bedoel om bepaalde skeidinge aan die lig te bring.  

Jesus bring egter in die verklaring ‘n verskuiwing in die gelykenis. Hy praat nou van die hóórders as die saad. Dus maak die Woord in die mens se hart, die mens self tot saad van die koninkryk.  

Ons laat die eerste drie soorte grond daar. Die vierde soort grond is die goeie aarde en die saad wat hier val lewer tot honderdvoudig vrug. Eindelik vergoed die oorvloedige oes vir die skade van die ander soorte grond. Jesus sê: Dit dui op dié wat die woord met 'n goeie en opregte hart hoor en dit bewaar en deur volharding vrug dra. Dis is die groep van opregte volgelinge van Jesus, wat die Woord ontvang en bewaar sodat dit tot volle vrug in hulle lewe kom. By hulle skiet die saad wortel en groei en tot rypheid. Die vrug is oorvloedig en word met volharding gedra.  

In die huidige grendeltyd word die Woord van God op verskillende maniere deur talle saaiers uitgedra. Talle hoorders word bereik. Wat ‘n wonderlike tyd beleef ons met die tegnologie!  

Die gelykenis van die saaier en sy saad is van toepassing oral waar die evangelie van die koninkryk van God verkondig word. Vir die saaiers bring dit bemoediging, vir die hoorders ‘n oproep om die Woord te hoor en te verstáán, sodat daar oorvloedige vrug met volharding gedra kan word.

Hoe lyk die vrug op die saaiers se werk vandag in jou en my lewe?

Ds. Pieter Strümpfer, 
Montanapark, Pretoria
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: