Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
DAAR IS HOOP IN DIE STORM - 2 April 2020  (Dag 7) 

• “Omdat ons baie swaar gekry het in die storm, het hulle die volgende dag die skip se vrag oorboord begin gooi. Die dag daarna het hulle eiehandig ook die skip se toerusting in die see gegooi. Dae lank was die son en die sterre nie te sien nie en het die geweldige wind voortgewoed. Uiteindelik het ons alle hoop laat vaar om gered te word” (Han.27:18-20).

Dis maklik om te hoop as dit met jou goed gaan en jou omstandighede gunstig is. Maar as dinge verkeerd loop en jou moeilikhede soos ’n stormwind teen jou losbars, dan is dit nie meer so maklik nie, dan is jy by hoop verby. 

Paulus is op pad na Rome om voor die keiser te verskyn, want in sy regsaak om die evangelie van Jesus Christus te verkondig, het hy hom op die keiser beroep (Lees Hand.25:10a,11b,21,32; 27:1,6). Maar hulle skip het hom teen ’n geweldige stormwind vasgeloop, so erg dat dit wou sink. As ’n noodmaatreël doen hulle ’n paar dinge wat vir ons wys dat hulle hoop verloor het. 

Hulle begin om die vrag oorboord te gooi. Onthou, dis ’n vragboot, nie ’n luukse passasiersboot nie. Die kosbare vrag verloor skielik sy waarde. Die volgende dag het hulle die skip se toerusting in die see gegooi. Hierdeur sê hulle: ons is aan die einde van die skip en aan die einde van ons lewens. Ons kan nie meer gered word nie. Hulle gee moed op en gooi handdoek in en kap ankers af. Lukas beskryf hierdie verhaal, en dan sê hy: “Uiteindelik het ons alle hoop laat vaar om gered te word” (Hand.27:20b).

Miskien was jy ook al op so ’n plek in jou lewe, of dalk is jy nou daar. Vir dae, weke, maande, jare lank sien jy nie meer die son bedags of die sterre snags nie, en die geweldige stormwind woed voort en dit waai alle geloof uit jou uit. Al wat jy dus sien is die einde. Dit voel of alles teen ons is: korrupsie, droogte, finansiële terugslae en krisisse. En nou hierdie verskriklike pandemie, ’n onsigbare vyand wat ons lewens verwoes.

Die Bybel leer ons in sulke tye: Moenie moed verloor as die nag op sy donkerste en die storm op sy hewigste is nie. Paulus kon vir hierdie mense wat niks meer het om van te lewe of geen toerusting meer het om hulle skip op koers te hou nie, sê: “Selfs in hierdie omstandighede: Hou moed! Ek vertrou op God” (Hand.27:22,25).

Ja, die skip het toe gestrand. Die stormind het dit uitmekaar geruk en stukkend geslaan. Die wat kon swem het oorboord gespring. Die ander het aan planke en wrakstukke vasgeklou, en op hierdie manier het almal veilig aan land gekom. Almal is gered, al het hulle hoeveel keer onder die water beland.

Al lyk jou omstandighede dus vandag ook hoe sleg, onthou Paulus se woorde: “Selfs in hierdie omstandighede: Hou moed! Ek vertrou op God”.

Ons tye en ons lewens is in sy hand.

Ds Attie Beetge
Stellenbosch 
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: