Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

             Maart 2021

Die WOORD...'n Nuwe vertaling


Deur Dr Jan Botha


Dawid sê in Psalm 119: 9 “Hoe kan ‘n jongmens (ek en jy, ons) sy pad suiwer hou, deur dit te hou na U Woord”.

 

Wat ‘n groot voorreg en geskiedkundige tyd is dit nie dat die bekendstelling van ons Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling 2020 juis in die uitdagende tye plaasvind nie!

 

Die Woord word vlees, die Logos, God se Woord in mense taal word vir ‘n derde keer in ons mooi en gevoelvolle, passievolle Afrikaans vertaal!

 

Jare gelede, op 7 September 1872 het Arnoldus Pannevis ‘n brief aan die Kaapse koerant De Zuid-Afrikaan geskryf. Daarin pleit hy vir die vertaling van die Bybel in Afrikaans want “die Engelse en Nederlanse Bybels is vir die duisende ‘Hollandssprekendes’ aan die Kaap ‘n geslote boek”.

 

‘n Nuwe verwagting en droom is geskep! ‘n Nuwe vertaling het begin momentum kry. In 1919 het Afrikaans vir die eerste keer as “kanseltaal” erkenning gekry. In 1933 is die Bybel vir die eerste keer in Afrikaans vertaal, in 1953 is die vertaling hersien en in 1983 het ‘n tweede Afrikaanse Bybelvertaling die lig gesien.

 

Op 29 November 2020 is die derde Afrikaanse vertaling van ons Bybel bekendgestel. Ja, 37 jaar na die vorige een met 170 medewerkers en 24 verskillende kerkgenootskappe wat daarby betrokke was.

 

Ons beleef in die tweede golf van die Corona virus weer iets van ons eie sterflikheid, gebrokenheid en aardsheid. Die is nie nou maar net getalle in die koerante en op TV nie maar mense wat ons persoonlik ken, name word nou die van vriende en familie naby aan ons. Ons is weer by vlak 1 van die 1ste Maart af en so verander die uitdagins en onsekerhede gereeld.

 

Ons Godsbelewing van die Jesus ons Here en verlosser het Immanuel, God met en by ons geword. Hy die Logos het die Vader se omgee, liefde, genade en vrede kom leef, tussen ons. In die unieke lydingstyd, spreek dit tot elkeen van ons en dui dit die rigting aan waarheen ons moet beweeg.

 

In dié Christus-tyd eis die Drie-enige God weer verwondering. Verwondering want ons lees in 2 Timoteus 3:16 “Die hele Skrif is deur God geïnspireer”. Die Griekse woord sê letterlik “ingeblaas”, “ingegee” of “ingeasem”!

 

Prof Willie Jonker het dan ook saam met ons Gereformeerde voorsate bevestig dat die wonderlike, Goddelike Boek vier wesenseienskappe het naamlik:

·        Gesag – want dit is en bly God se Woord in mense taal, ingeasem deur die Gees

·        Betroubaarheid – want dit is deur die eeue heen ‘n rigsnoer en kompas vir die lewe

·        Duidelikheid – want die hele, volledige pad van verlossing en die nuwe lewe in Christus word verstaanbaar uitgespel

·        Genoegsaam – want alles vir die hier en nou asook die ewige word so beskryf dat ons verseker kan wees van die lewe en ewige lewe.

 

Jesus het die Woord gelewe! Ons moet weer in die Christus-tyd:

·        in afwagting en verwondering lewe asook die Woord lewe in ons allerdaagse handel en wandel en afsmeer aan almal wat ons pad kruis

·        weer die Bybel met respek en eerbied hanteer om weer die Christus- gebeure van eeue gelede deur die Gees vir ons te ontsluit en te beleef

·        om weer met hoop te fokus op die Bron van hoop ten spyte van die onseker en twyfelagtige Korona-tye

·        om weer opnuut persoonlik maar ook gesamentlik die aanraking en teenwoordigheid van Immanuel, God met ons te beleef en uit te leef in die nuwe jaar!

 

Paulus sê so duidelik in die Boodskap se vertaling van die Bybel in 2 Timoteus 3:14-17 die volgende:

 

Bly op die koers waarop die Bybel ons geplaas het

14. Maar jy, Timoteus, moet jou nie ’n duim van koers af laat bring nie. Bly by die dinge wat vir jou geleer is en wat jy weet waar is. Jy weet mos wie dit alles vir jou geleer het. 15Toe jy nog klein was, het jy al die Skrif gelees. Jy kan baie daaruit leer, soos hoe ’n mens se saak met God weer reggemaak kan word deur op Christus Jesus te vertrou.

16. Die hele Skrif kom direk van God af. Daaruit kan ons so baie leer. Dit help ons om te wys waar mense die pad byster raak en om hulle weer reg te help. Uit die Skrif kan ons ook vir mense wys hoe God wil hê hulle moet leef. 17Op dié manier sal iemand wat God s’n is, weet wat God van hom verwag en só reg wees om behoorlik vir God te kan werk.

 

Ons dogter sê ‘n paar maande gelede vir my: “Pappa as ek iets eendag kan erf, kan dit asseblief pappa se “Army Bybel” wees, want hy is opgebruik!” Kom ons koop en of laat vir onsself en ons nageslag ‘n Bybel, ja miskien sommer die Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling van 2020 na!

 

Die Woord het vlees geword en gely vir ons! Kom ons gaan lewe die Woord met passie, sagte oë en omgee ook in die uitdagende en die onseker tye waarin ons ons elke dag bevind!!!


(Kyk ook na die Webinaar oor die nuwe 2020 vertaling met Prof Herrie van Rooy - Gauteng-Noord gebiedsvergadering - Webinaar) 

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: