Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

             Augustus 2021

Onlangse gebeure - 'n veiligheidsperspektief


Deur Genl. Chris van Zyl

 

Tydens die onlangse webinaar van die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsreg het Genl. Chris van Zyl van TLU-SA ʼn omvattende aanbieding gedoen oor ʼn veiligheidsperspektief. Met die instemming van Genl. Van Zyl plaas ons graag die perspektief.

 

Agtergrond,             

Sedert die vroegste jare het Trekkers en Setlaars te doen gekry met bepaalde veiligheidsuitdagings. Benewens etlike oorloë (die meeste grootliks beperk tot bepaalde geografiese gebiede), was moord, diefstal van lewende hawe en produkte ook ter sprake. Eeue later duur hierdie tendens voort. Vanuit ‘n georganiseerde landbouoogpunt is my fokus grootliks gerig op geweldsmisdade op plase en landbouhoewes asook die onaanvaarbare stand van sake mbt georganiseerde veediefstal. In die onlangse verlede blyk dit asof diefstal van produkte (vrugte, neute, groente en selfs mielies en vuurmaakhout  – hetsy op die land of tydens vervoer na en van silo’s) kommerwekkende afmetings aanneem.

 

Geweldsmisdaad op plase tydens die sg “liberation struggle” het nuwe afmetings aangeneem toe landbouers in die midde tagtigs as “legitieme teikens” geag was aangesien talle van hulle by die plaaslike SAW Kommandostelsel betrokke was. Die landelike veiligheidsituasie het egter gelei tot ‘n spitsberaad in die laat 90’s wat onder voorsitterskap van die destydse President plaasgevind het. Geweldsmisdade op plase en hoewes is as “Nasionale Prioriteitsmisdade” verklaar en ‘n Nasionale Prioriteitskomitee op nasionale-, provinsiale-, distriks- en plaaslike vlakke het die lig gesien.

 

Op daardie stadium was die einste Kommandostelsel een van die belangrikste “Veiligheids-hoekstene” wat vir dekades na landelike- en gemeenskapsveiligheid saam met die polisie omgesien het. In 2003 was egter besluit dat die Kommandostelsel ontbind moet word en dat die SAPD voortaan alleen-verantwoordelikheid vir die funksie sou aanvaar. Vir ‘n beperkte tydperk kon die SAPD se Reservistestelsel die leemte vul, maar geleidelik het die situasie versleg – ‘n tendens wat tot die huidige voortduur. Ondanks die “Nasionale Prioriteitsmisdaad Status”, dui TLU SA se informele Register van Insidente aan dat daar steeds ‘n plaasaanval per dag en ‘n moord per week in die RSA plaasvind.

 

Hierdie toedrag van sake het geleidelik versleg en na dorpe en stede uitgebrei sodat Polisiëringsforums, Buurtwagte en Plaaswagte in die lewe geroep was om lede van die samelewing te mobiliseer om na die veiligheid van  eie woon- en werksgebiede om te sien. Uiteraard het hierdie verwikkeling aanleiding gegee tot die uitbreiding van die Privaat Sekuriteitsindustrie wat waarskynlik tans oor die grootste bron van mannekrag in die land beskik. Deurlopend het georganiseerde landbou vertoë gerig vir ‘n toepaslike konsep van ‘n “Landbou-vriendelike SAPD Reserviste-stelsel”, maar dit het op dowe ore geval. Intussen het lede van die burgery toenemend aanvaar dat die veiligheid van woonbuurte, sakesentrums en landelike gebiede nie vanuit owerheidsweë geïnisieer sal word nie, en dat eie inisiatiewe nodig is.

 

Huidige situasie

Die baie onlangse gebeure in KZN en enkele dele van Gauteng het opnuut ernstige gebreke sowel as sekere realiteite bevestig. In hierdie verband is die volgende noemenswaardig:

  • Die kritiese gebrek aan tydige en akkurate inligting. Die oor-en-weer vingerwysery tussen die Polisie en die Nasionale Veiligheidsagentskap het hewige debat tot gevolg gehad. ‘n Oënskynlike gebrek aan ‘n geïntegreerde stelsel wat tydige waarskuwing van goedbeplande onwettige optredes kon verseker, skreeu ten hemele.
  • Kommerwekkende aanduidings van faksie-vorming nie net binne die geledere van die SAPD nie, maar ook tussen die betrokke minister en sy Nasionale Kommissaris. Hierdie toedrag van sake het waarskynlik diep wortels binne die geledere van die SAPD self, en uiteraard skep dit kritiese klimaat vir kritieke wantroue en gevolglike gebrekkige funksionering ten koste van die wetsgehoorsame publiek. Al hoe meer gerugte vanuit polisie-geledere dui op ‘n polities-geïnspireerde kabaal wat geen teenstand duld nie. Tot welke mate soortgelyke verwikkelinge reeds binne die geledere van die SANW bestaan, is onduidelik, maar dit kan beslis nie buite rekening gelaat word nie
  • Op nasionale (en selfs op provinsiale- en plaaslike-) vlak word die (verborge?) politieke aspirasies van beide verskillende faksies en indiwidue toenemend bevraagteken. In sekere kringe word die eenheid binne die geledere van die regerende alliansie ernstig in twyfel getrek. Uiteraard het hierdie toedrag van sake ‘n ernstige impak op wetgewing en die wyse waarop die staat sy verpligtinge nakom. In hierdie verband is die felle debat wat heers met betrekking tot die voorgestelde wysigings van die Wet op die beheer van Vuurwapens – en dan in besonder die kwessie van “Selfverdediging” ‘n voorbeeld.
  • Groeiende armoede en gebrekkige opvoeding wat ‘n toenemende “hoop-verlore” en werklose generasie skep (veral te midde van die huidige Inperkingsmaatreëls en werksverliese as gevolg daarvan) het tot gevolg dat misdaad (diefstal en roof) die enigste opsie vir baie bly. Hoeveel van die padstalletjies wat produkte (en selfs vuurmaakhout) verkwansel, se voorraad was nie op onwettige wyse (blatant gesteel – selfs in gesofistikeerde georganiseerde verband) bekom nie?
  • Die duidelike fokus op “rassisme” – veral waar effektiewe (en dalk oordrewe en dodelike inisiatiewe – Indiërs in groter Durban) van gemeenskapsveiligheidslede wat gewelddadige misdadigheid in sy spore stuit. Hierdie toedrag het juis onlangs selfs in die SAPD se meer subjektiewe verslagdoening van geweldsmisdade op plase sigbaar geraak – skielik word aanranding van plaaswerkers deur landbouers ook vermeld (ondanks die feit dat sodanige insidente statisties onbeduidend is).
  • Die Indiensstelling van die SANW mag op die oog af bydra om ‘n hoër vlak van veiligheidsteenwoordigheid in die geaffekteerde (en aangrensende?) gebiede te vestig. Tot welke mate die SANW lede wel opgelei is om situasies soos wat onlangs voorgekom het, korrek en beslissend te hanteer, die  is egter onbeproef. Of die teenwoordigheid van Ratels (nogal steeds na hoeveel jare met ou SAW se 61 Meg Bn Gp kentekens) en Rooikatte tot stabiliteit en die effektiewe handhawing van wet en orde (ook in stedelike gebiede) gaan bydra, sal gesien moet word.
  • Tydens die winterseisoen (soos tans) is brandstigting ‘n wesentlike bedreiging wat herhaaldelik benut word om skade te veroorsaak of as misleiding te dien wanneer ‘n reeds-beperkte personeel-bron elders te gekompromitteer is.

 

Aanbevelings

Dit is bykans ondenkbaar dat voldoende en besliste optrede teen diegene wat agter die onlangse vlaag van misdadigheid in KZN en dele van Gauteng sit, soortgelyke optredes in die toekoms sal verhoed. Sou die tekens van ernstige dog verborge verskille in regeringsgeledere voortduur, mag die lesse wat geleer was moontlik bydra tot meer ernstige en beter beplande optredes in die afsienbare toekoms. Of dit sal kan neutraliseer, is waarskynlik ‘n ope vraag in baie gemoedere. Gegewe die lesse wat tydens die onlangse gebeure geleer was, verdien die volgende kwessies ernstige oorweging:

 

Inligtingsbewustheid.        'n Ingesteldheid om die abnormale- buitengewone verwikkelinge van gebeure asook die trant van gerugte en ander vroeë waarskuwings raak te sien en in verband met mekaar te bring. Nà die tyd is die maklik om aanduidings te interpreteer vir wat dit was, maar dan is die skade reeds gedoen. ‘n Vroegste-moontlike waarskuwing is krities.

Goeie organisasie.            Inskakeling by ‘n struktuur wat geaktiveer kan word in situasies van nood om betyds leiding en onderlinge ondersteuning te kan verskaf. In hierdie verband is die tydige identifikasie van ‘n aanvaarde en bedrewe leierskomponent belangrik.

Toewysing van take.        Identifikasie van take en ingeoefende gebeurlikheidsbeplanning vir voorsiene gebeurlikhede. Die inagneming van bejaardes, alleenlopers, kinders, siekes en behoewendes se welsyn belangrik.

Identifikasie van knelpunte.         Pad aansluitings, Selfoontorings, veiligheidskameras, driwwe, enkelbaan-bruë, alternatiewe roetes, ontsnaproetes, ens

Kommunikasie.                Effektiewe onderlinge kommunikasie vir doeleindes van verspreiding van toepaslike informasie, onderlinge skakeling asook skakeling met owerheidsinstellings en ander geïdentifiseerde rolspelers (SAPD, brandweer, nooddienste en plaaslike sekuriteitsmaatskappye).

“Verharding” van huis, haard en werksplek.          Effektiewe sekuriteitsmaatreëls - Veiligheidshekke, diefwering, alarmstelsels, heinings, beligting, maklike toegang tot vuurwapens, kommunikasiestelsel, noodhulp, veilige kamer/vertrek, wisselende roetine

Noodvoorraad.                 Voldoende reserwes van rantsoene, medisyne, water, brandstof en energiebronne (kragopwekkers en batterye)

 

(Kyk na dié en ander aanbiedings wat tydens die webinaar gelewer is)

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: