Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           September 2021

Paarl Afrikaanse skakelforum

Kommentaar op US se tweede konsep hersiene taalbeleid

 

Die Afrikanerbond se kommentaar op die Universiteit van Stellenbosch se hersiene taalbeleid is onlangs in die e-Afrikaner gesirkuleer. Van ons lede is betrokke by die Paarl Afrikaanse Skakelforum en plaas ons graag ook hulle kommentaar wat ingedien is.

 

1.        ALGEMEEN

Die Paarl Afrikaanse Skakelforum het met groot teleurstelling kennis geneem van die Tweede Konsep Weergawe van die Raad en Senaat om slegs kosmetiese aanpassings te maak van die kern aspekte van die meeste van die voorleggings wat gemaak is en/of voorstelle bloot te ignoreer. Geen wesentlike veranderings is aangebring nie. Die besluit om Engels die primêre taal oor die volgende vyf jaar by die US te maak word dus verder geïnstitusionaliseer.

 

Die eerste aspek wat opval is dat die Viserektor: Leer en Onderrig, Prof Deresh Ramjugernath, wie met die groot respek, seker weinig of geen aanvoeling vir die Afrikaanse taal en kultuur het nie, aangewys is as die “Eienaar van die Beleid”. Dit gaan nie hier oor ras nie maar daar moet tog sekerlik verskeie Bruin of Wit Afrikaansprekende persone wees wat meer geskik is hiervoor?   

 

Die kern van die Beleid verwoord hoofsaaklik ‘n “nuwe etos en waardes” waarna daar inkrementeel, oor die jongste byna ʼn dekade onder die nuwe Bestuur, heen beweeg is en soos reeds voorheen uitgewys word die US se tradisionele Institusionele Geheue, Institusionele Gewete en Institusionele Integriteit totaal gesystap en uitgerangeer.

 

Vir die vorming van die volledig opgevoede mens speel sy/haar kultuur, waarvan taal die hoofkomponent is, ʼn uiters belangrike rol. Hierdie reg word in die Grondwet verskans. Die etos en waardes wat oor bykans ʼn eeu by die US ontwikkel en gevorm is, kan nie sonder meer oorboord gegooi word nie. Volgens James Collins en Jerry Porras in hul boek, “Built to Last”, wie ʼn studie gemaak het van die sukses gewoontes van visionêre ondernemings, insluitende universiteite, wat reeds 100 tot 150 jaar oorleef het, is die volgende stelling waar:

“ In a visionary company (ook ʼn universiteit), the core values need no rational or external justificaction. Nor do they sway with trends and fads of the day. Nor even do they shift in response to changing market conditions .“

 

Die huidige generasie Bestuur (rektoraat), dosente en studente, wat teen die agtergrond van 100 jaar, vir ʼn relatief kort periode by die US betrokke is, se behoeftes, waardes en sienings kan nie swaarder weeg as die langtermyn belange van die US as ʼn tradisionele Afrikaanse organisasie en al die ander rolspelers daarmee saam nie.

 

 Indien ʼn kleiner taal voortdurend erodeer word, sal dit later deur die oorheersende taal (Engels) vervang word. Wanneer die taal uitsterf, sterf die taalgemeenskap wat dit gebruik saam daarmee uit. Dit bring op die langtermyn mee dat Afrikaans as akademiese taal net na ʼn huistaal afgerangeer gaan word.

 

Die bewerings dat ouers en studente onderrig in Engels verkies, is bloot net nie waar nie. ʼn Goed beplande strategie, deur behoorlike voorligting, behoort hierdie wanpersepsie by hulle om te keer. Wat het die US gedoen om die oorweldigende bewyse van die voordele van moedertaalonderrig onder potensiële Afrikaansprekendes se aandag te bring?

 

Die RSA is uniek in die wêreld met ‘n kaleidoskoop en ʼn diversiteit van tale, kulture en godsdienste. Enige pogings om hierdie diverse tale en kulture in een Engelse potjiekosmengsel te laat opgaan, is gewoon oor die langer termyn nie in belang van die Afrikaanssprekende gemeenskap en ook nie haalbaar nie.           

 

Dit is ons beskeie mening dat die kwessie van ʼn geskikte, vir almal aanvaarbare Taalbeleid vir die US, baie meer kompleks is as wat tans besef word en verg verdere diepgaande navorsing en raadpleging voordat verder daaraan verander word.

 

Hoewel die drie amptelike Wes-Kaap tale as riglyn gebruik word en in ʼn  geringe mate voorsiening gemaak word vir Afrikaans- en Xhosasprekende studente as primêre teikengroepe is ons van mening dat om ook voorsiening te wil maak vir studente uit die buiteland nie gepas is nie. Die Visie en doelstellings van die US behoort op die Wes-Kaap te fokus. Daar is genoeg ander universiteite in die RSA wat aan hierdie behoeftes kan voldoen.  

 

Daar word dus ʼn ernstige beroep op die US gedoen om sy tradisionele Institusionele Geheue, Institusionele Gewete en Institusionele Integriteit deurgaans in ag te neem met veranderings aan die Taalbeleid tot die nadeel van Afrikaans.

 

2.        Afrikaans as inheemse taal

Die vertoë wat die US gerig het en sy verbintenis om die definisie van inheemse tale te laat wysig om Afrikaans en die Khoi en San tale daarby in te sluit word sterk ondersteun.

 

3.        Redelikwys uitvoerbaar.

Die kwalifisering van die beleid met die woorde “rederlikerwys uitvoerbaar” is ʼn bron van ernstige kommer. Dit kan as ʼn skuiwergat gebruik word om goedsmoeds van die hersiene taalbeleid af te wyk.

 

4.        Verdere afbouing van Afrikaans

Die 2016-taalbeleid en die eerste konsep dokument oor die hersiene taalbeleid kom in die praktyk daarop neer dat onderrig in Afrikaans inkrementeel verder afgeskaal en verswak gaan word. Van vorige beloftes dat Afrikaans en Engels gelyke status sou geniet word nou verdoesel met die speel van woorde soos “gelyke agting”. Indien dit so is, moet dit ook in lesings in die klaskamer gedoen word en nie net bly by lippetaal nie.

 

5.        Invloed van topbestuur/rektoraat

Die leierskap en invloed van die Hoof- uitvoerende beampte (rektor) en voorsitter (kanselier) speel onteenseglik ʼn deurslaggewende rol in die rigting en funksionering van die US. Dit blyk dat die visie van die huidige Rektor die internasionalisering van die US is en dat die Voorsitter en Raad hierdie inkrementele klemverskuiwing in die tradisionele visie, etos en waardes van die US sienderoë toegelaat het.

 

ʼn Ernstige beroep word op die Raad en Senaat gedoen om verkieslik weer terug te keer na die oorspronklike waardes en doelstellings en in gelyke mate te fokus op die Wes-Kaap se mense as voedingsbron vir nuwe studente. Hiervoor is ʼn diepte ondersoek na die Toelatingsbeleid en die koördinering daarvan ʼn voorvereiste.

 

6.        Stellenbosch die bakermat van Afrikaans

Dit is ironies dat ʼn buitestaander, by name Dr Darryl David, by Unesco aansoek gedoen het om Stellenbosch as die Afrikaanse dorp van letterkunde verklaar te kry en dat die US terselfdertyd besig is om Afrikaans as vaktaal stelselmatig af te water. Weer ʼn geval van waar ʼn profeet die in sy eie land geëer word nie!

 

7.        Spesifieke kommentaar

7.1      Die weglating van Art. 6 van die Grondwet wat handel oor die status van die RSA se amptelike tale word as ernstige leemte in die hersiene Beleidstuk beskou. Teen die agtergrond van die oorheersing van Engelstaligheid moet daar betekenisvolle funksies vir Afrikaans binne die bepalings van Art. 6 gevestig word.

7.2      Ten einde die mikroaggressiwiteit teenoor, en eweknie druk op, Afrikaanssprekendes uit te skakel behoort daar erkenning en/of ʼn beloning aan studente gegee te word wat verkies om in hul moedertaal onderrig te ontvang.

7.3      Maak voorsiening en handhaaf ʼn fyn balans met die aanstelling van Afrikaansmagtige dosente en personeel en koördineer die prosesse wel deeglik. 

 

Dr C H Stander

Voorsitter: Paarl Afrikaanse Skakelforum

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: